Met sy nuwe fliek, Kyk my in my oë, wat binnekort sy verskyning op die grootskerm maak, heers daar groot opgewondheid by Melkbosstrand-inwoner Christian Schoeman.

Volgens Schoeman fokus die film op geestesgesondheid, outisme en familie-verbintenisse. Dit is ‘n rolprent wat veral in Outisme-maand baie gewig dra.

Vir Schoeman en sy mede-skrywer, Rickus Terblanche, was dit belangrik om die breër aspek van die outisme-spektrum uit te beeld. Die film fokus op Andrew, die hoofkarakter, ‘n jong outistiese man wat Kaapstad toe gaan om sy vervreemde pa te konfronteer, maar by sy neef Riaan moet intrek, ‘n man wie se lewe stilletjies ont-

rafel nadat sy verhouding skeefgeloop het. In die ongemaklike ruimtes tussen hulle, moet hulle begin om onuitgesproke trauma te konfronteer en ‘n manier vind om mekaar te verstaan.

“Ons het ‘n hele reis met die film gehad. Gesprekke het rondom September 2024 begin en dit het regtig gevoel soos ‘n film wat gesmeek het om gemaak te word. Een van die grootste struikelblokke wanneer ‘n voltooide draaiboek in ‘n film verander word, is hoe jy alles wat jy neergeskryf het, geskiet gaan kry vir x hoeveelheid geld. Wat ek gedoen het met Kyk my in my oë was om dit te skryf met die doel om dit so goedkoop as moontlik te kan skiet.”

Schoeman het die liggings tot sy beskikking geneem en alles saamgesmelt en is trots op die eindproduk.

Die gehalte van die gesoute akteurs is ook iets waarop hy trots is. Vir Schoeman beteken die film ongelooflik baie. “Dit is meer as net die storie wat dit vertel en die eindproduk, want hierdie film verteenwoordig ‘n risiko wat ek geneem het en self finansier het, en dis ook ‘n belegging wat ek in myself gemaak het.

“Ek glo in my vermoë as akteur en regisseur en ek wil hierdie film gebruik as bewys waartoe ek, as filmmaker, in staat is. Bowenal is die film ook ‘n manier om een van die vele stories te vertel van ‘n groep mense wat nie noodwendig altyd die vermoë het om namens hulself te praat nie.”

Met die harde werk en tyd wat ingesit is, meen Schoeman Kyk my in my oë is die soort film wat gesprekke sal ontlok en mense sal aanmoedig om dieper te kyk na mense op die spektrum en hul daaglikse ervarings en uitdagings. Die rolprent sal Vrydag 15 Mei by die Labia-teater in Kaapstad, om 18:00 vertoon word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article