Die ATKV-tak in Velddrif bring op Vrydag 8 Mei hulde aan die plaaslike inwoner en gerekende teaterpersoonlikheid Antoinette Kellermann vir haar jare lange bydrae tot Afrikaanse drama en kultuur.
Kellermann se loopbaan strek oor dekades waarin sy haar stem en talent gebruik het om Afrikaanse literêre werke lewe te gee. Met ‘n besondere liefde vir die woord en die verhoog het sy haarself gevestig as ‘n kunstenaar wat gehore diep raak en inspireer.
Haar werk sluit vertolkings van tekste deur bekendes soos Antjie Krog, Dot Serfontein en Breyten Breytenbach in, skrywers wie se woorde sy met deernis en insig oordra. Hierdie passie vorm ook die hart van die vertoning Hulle woorde, my stem, wat as deel van die hulde-aand aangebied word.
Die geleentheid vind plaas by die Riviera-hotel in Voortrekkerstraat, Velddrif, en begin om 18:30. Kaartjies kos R250 per persoon en sluit ‘n driegangmaaltyd in, met ‘n kontantkroeg wat beskikbaar sal wees.
Na afloop van die vertoning sal Kellermann met ‘n spesiale ATKV-oorkonde vereer word as ‘n besondere eerbewys vir haar volgehoue toewyding en invloed in die Afrikaanse teaterbedryf.
Volgens die organiseerders is kaartjies beperk en belangstellendes word aangemoedig om vroegtydig te bespreek om nie hierdie unieke geleentheid mis te loop nie.
Hierdie aand beloof om nie net ‘n viering van Kellermann se merkwaardige loopbaan te wees nie, maar ook ‘n trotse oomblik vir die Velddrif-gemeenskap wat een van hul eie vereer.
Vir meer inligiting, kontak Suzette Conradie by 082 469 4384.





