Selfs in intieme verhoudings, families en sosiale kringe – maar veral by die werkplek, brand toegewyde, liefdevolle en talentvolle mense uit.
Die druk om te presteer, is oral groot.
Dit gaan oor die fyn papiersnytjies en soms duidelike byle wat voortdurend, sonder ophou, na mense geslinger word.
“Dis daai thousand cuts en brui- ses,” sê ‘n vriend van my graag.
As ‘n mens Noluvu Ludidi se berig (bl.3) oor dr. Helena Heydenreich se erkenning vir haar werk oor uitbranding onder onderwysers lees, sal baie mense besef dat hulle dit al ‘n paar keer in hul eie lewens ook beleef het.
Toegewydheid en bekwaamheid kan mense wel help om hul werk goed te verrig, maar emosionele aftakeling kan veroorsdaak dat hulle hul passie vir hul werk verloor, soos Heydenreich se studie wys.
Mense bring ‘n groot deel van hul lewe by hul werk deur. Hoe hulle teenoor mekaar optree, kan ‘n kollega of werknemer se emosionele welstand verbeter, óf benadeel.
Om die situasie te vererger, word uitbranding volgens Heydenreich as ‘n individuele swakheid eerder as ‘n sistemiese probleem gesien. Wanneer mense se stemme nie gehoor word nie en van hulle verwag word om doodeenvoudig voort te gaan sonder dat gereelde konfliksituasies opgelos of “betekenisvolle gesprekke gevoer word”, is wanneer mense begin om 24-uur-kennis te gee, al laat dit hul gesinne in verskriklike geldelike nood omdat hulle dan gewoonlik met net een salaris oor die weg moet kom.
In die Weskus is baie klein ondernemings waar die “baas” praat en die “klase” mag nie die bestaande stelsel bevraagteken of selfs net meer oor opdragte uitvra nie.
“Vat jou pie en waai, want daar is baie ander wat in ‘n ry by die deur staan,” is sommige se houding.
Om ‘n saak na die CCMA te neem, lewer meestal geen uitkoms nie.
Heydenrych se studie wys dat uitbranding nooit net deur een faktor veroorsaak word nie, maar deur “ ’n voortdurende opeenhoping van druk, wat oor tyd onhanteerbaar raak”.
Ondersteuning speel hier die sleutelrol. Iemand wat by die huis ondersteun word, is reeds ietwat beter daaraan toe as ‘n kollega wat dalk geen steun tuis kry nie. Maar sakeondernemings sal dieper na emosionele ondersteuning moet kyk.
Die studie benadruk ook ‘n groeiende gevoel dat mense min beheer oor hul werksomgewing het. Eise neem toe, maar salarisse groei nie saam met inflasie nie. Dit plaas ook geldelike druk op werknemers.
Heydenreich verwys daarna onderwysers verloor oor tyd hul identiteit, hul sin vir betekenis en hul vermoë om met energie, geduld en ‘n glimlag hul werk te verrig.
Dit is ook die lot van talle werknemers wat in hul werkplekke vasgevang voel, want die vrees om sonder ‘n inkomste te wees, laat hulle aanhou, al is hulle lankal verby die punt van uitbranding.
Volgens Heydenreich is uitbranding nie net ‘n werksprobleem nie, maar ‘n menslike krisis.
Dit raak egter níé net onderwysers nie, maar alle werknemers wat gedwonge voel om in toksiese werkplekke aan te bly. Hulle meen hulle het geen uitkoms nie en werk dus konstant in oorlewingsmodus, wat spanning en emosionele uitputting vererger.
Werknemers kan gerus hul werk-stelsels herbekyk, want landwyd dui studies daarop dat werknemers in Suid-Afrika hulle sielkundig aan hul werkplekke begin onttrek.
Hulle is fisiek teenwoordig, maar eintlik onbetrokke. Net die absolute minimum wat volgens kontrak vereis word, word gedoen en enige ekstra moeite, inisiatief of kreatiwiteit word vermy.
Daar moet dus nie neergekyk word op mense wat uitbrand nie, want dit is duidelik níé ‘n individuele probleem nie, maar ‘n simptoom van werksomgewings waar druk, gebrek aan ondersteuning en beperkte gesprekke oor welstand ophoop.
Soos Heydenreich se bevindinge toon, is volhoubare oplossings nie net in die hande van die individu nie, maar verg dit ook ‘n herbesinning oor hoe werkplekke bestuur, mense ondersteun en menswaardigheid in alledaagse werkservarings ingebou word.
In ‘n tyd waar soveel werknemers reeds emosioneel op hul breekpunt is, word die vraag al hoe dringender: Hoe lank kan enige stelsel bekostig om sy mense só te laat werk voordat die skade onomkeerbaar word?


