Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n poging-tot-moord-saak.

‘n Skietvoorval die afgelope Donderdag het ‘n 50-jarige veiligheidswag van die Byers-sekuriteitsmaatskappy in Vredenburg ernstig gewond gelaat.

‘n Verklaring uitgereik deur Niel Rossouw, uitvoerende hoof van Byers, lui die voorval het op Donderdag 9 April in Ongegund plaasgevind.

Kapt. Tania Helfrich, distrikswoord- voerder vir die Weskus-polisie, het bevestig die voorval het omstreeks 06:00 in Saartjiebaardmanstraat, Ongegund, gebeur.

“Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n poging-tot-moord-saak,” voeg sy by.

Die veiligheidswag is in sy gesig geskiet en is in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal waar hy verdere mediese behandeling ondergaan.

Rossouw het gesê hul tweede reaksiebeampte wat by was ten tyde van die skietery, is ongedeerd. “Hy het buitengewone dapperheid getoon, die aanvallers suksesvol afgeskrik en verdere skade voorkom. Hul optrede is ‘n bewys van die moed, opleiding en professionaliteit wat ons span definieer.”

Rossouw sê hul gedagtes en gebede is met albei beamptes en hul gesinne gedurende hierdie moeilike tyd. “Ons bly hoopvol vir ‘n volle en spoedige herstel, beide fisiek en emosioneel.

“Hierdie tragiese voorval dien as ‘n duidelike herinnering aan die gevare waarmee ons gewapende reaksiebeamptes daagliks te kampe het. Ons betuig ons opregte dank aan al ons beamptes vir hul moed, toewyding en onwrikbare verbintenis om ons gemeenskap te beskerm,” voeg hy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article