Skoolleerders kry kans om musiek in kuns te omskep met Skilder met Woorde-kompetisie

Skoolleerders kry kans om musiek in kuns te omskep met Skilder met Woorde-kompetisie.
Skoolleerders kry kans om musiek in kuns te omskep met Skilder met Woorde-kompetisie.

Skoolleerders met ’n liefde vir Afrikaanse musiek en kuns kan weer hul talente wys met die terugkeer van die Skilder met Woorde-kompetisie in 2026.

Volgens Karla Janse van Vuuren van Afrikaans.com volg die kompetisie op die sukses van die eerste aanbieding in 2021. “Ons het ná die eerste kompetisie baie navrae van leerders en ouers ontvang wat wou weet wanneer dit weer aangebied gaan word,” sê Janse van Vuuren. “Dit het vir ons gewys hoe groot die behoefte is aan kreatiewe platforms vir jong mense.”

Marisa Steynberg het nog as tuiskolier dié kunswerk van die Anton Goosen se liedjie Straattroebadoere vir die vorige kompetisie in 2021 geskep. Foto: afrikaans.com

Die kompetisie, wat in samewerking met kunstenaar Elsie Jooste aangebied word, daag leerders uit om een van 15 Afrikaanse liedjies te kies en dit in ’n kunswerk uit te beeld. Die liedjies sluit bekende name in soos Anton Goosen, Laurika Rauch en Karen Zoid.

“Die doel is om leerders aan te moedig om na musiek te luister en dit visueel te interpreteer,” verduidelik sy. “Elke leerder gaan iets anders hoor en sien, en dit maak elke inskrywing uniek.”

Die kunswerke sal beoordeel word deur Jooste en die sanger en kunstenaar Jan Blohm. Volgens Janse van Vuuren sal daar gekyk word na emosie, uitbeelding, komposisie en tegniek. “Dit gaan nie net oor hoe mooi iets is nie, maar oor hoe goed jy die gevoel van die lied oordra.”

Leerders kan in enige medium werk en die kompetisie is oop vir laer- en hoërskoolleerders, asook tuisskoolleerders. Om deel te neem, moet hulle ’n hoëresolusie-foto van hul kunswerk saam met hul besonderhede per e-pos instuur.

’n Nuwe element van vanjaar se projek is ’n kombi wat skole sal besoek om bewusmaking te skep. “Dit maak die kompetisie meer sigbaar en gee leerders ook die kans om deel te voel van iets groter,” sê sy.

Inskrywings het op 25 Maart 2026 geopen en sluit op 3 Julie 2026.

Stuur ’n hoëresolusie-foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans.com@gmail.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool, asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gebaseer is, daarby.

Wenners sal in die eerste week van Augustus 2026 aangekondig word.

Daar is pryse ter waarde van R28 000 op die spel. Wenners in die laer- en hoërskoolkategorie ontvang elk R3 000, terwyl hul skole R8 000 kry. Tweede en derde plekke word ook beloon.

“Ons hoop leerders gebruik hierdie geleentheid om hulself uit te druk en nuwe vaardighede te ontwikkel,” sê Janse van Vuuren. “Dit gaan oor meer as net wen – dit gaan oor deelname en groei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article