Die seer en ongeloof word steeds in die Weskus gevoel. Dit nadat ‘n grusame ongeluk die lewens van ses mense geëis het.
Die ongeluk het die afgelope Sondag (29 Maart) omstreeks 17:45 op die Hopefield-pad (R45) naby die Elandsfontein-myn plaasgevind. Twee voertuie was in die ongeluk betrokke.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distriks- woordvoerder van die Weskus-polisie, het die bestuurder van ‘n wit Isuzu-bakkie en vier passasiers na bewering ‘n voertuig verbygesteek en met ‘n wit Polo in die regterbaan gebots.
“Die Polo het op sy dak beland en al drie manlike passasiers is op die toneel dood. Die Isuzu het op sy linkerkant beland. Twee vroulike passasiers is op die toneel dood en ‘n man en twee ander vroue is ernstig beseer. Hulle is vroeg Maandagoggend na die Groote Schuur-hospitaal in Kaap- stad oorgeplaas.”
Weslander het verneem dat Sanele Pakade (45), ‘n paramedikus, dieselfde oggend aan sy beserings beswyk het. Die twee vroulike passasiers in die bakkie wat gesterf het, was sy vrou, Nontikelelo Pakade (47), en Lihle Xola (35). Die Pakades se 20-jarige dogter en nog ‘n 25 jarige vrou word steeds met ernstige beserings in die hospitaal behandel.
Die drie mans in die wit polo is geïdentifiseer as Macneil “Bal” Lewis (35) van Hopefield en die Vredenburgers Tervin Coetzee (27) en Wilbert Soegop (34).
‘n Gebroke Wilfred Soegop, Wilbert se tweelingbroer, het met Weslander gedeel dat hy sy broer verskriklik gaan mis. Soos enige sibbe het hulle by tye vasgesit, maar hulle was geheg aan mekaar.
“Hy was ‘n baie sagte mens en hy was baie lief vir sy kinders. Toe ek die nuus van sy sterfte hoor, wou ek met niemand gepraat het nie. Dit was ‘n groot skok.”
Leroy Mason, ‘n vriend wat saam met Coetzee gewerk het, het baie tyd saam met hom deurgebring. Hy beskryf Coetzee as ‘n persoon met ‘n vrye gees wat die vermoë gehad het om mense te laat lag.
“Hy het gehou van sport en hy kon altyd ‘n glimlag op ‘n mens se gesig sit. Hy was ook baie hardwerkend,” sê Mason.
“Ek wil vir sy familie sê sterkte. Daar gaan nou ‘n leemte wees. Ek wil glo dat die wond wat God slaan, is die een wat hy weer kan genees. Hulle het ‘n goeie seun grootgemaak. Almal was lief vir hom.”
Medelye vir die oorledenes het van orals ingestroom, wat hul impak op die lewens van baie beklemtoon.
Helfrich bevestig dat ‘n saak van strafbare manslag ondersoek word.
Die gemeenskap dra die families in gebede op tydens hierdie moeilike tyd.
Die publiek word ook gemaan om geen video’s op sulke tonele te maak en te versprei nie.










You must be logged in to post a comment.