Die aansoekvenster vir skooltoelatings vir grade R, 1 en 8 in 2027 sluit oor ‘n maand, op Dinsdag 14 April.
Ouers word aangemoedig om reeds nou die nodige dokumente bymekaar te maak sodat hulle gereed is om aansoek te doen.
Dokumente wat vir alle aansoeke benodig word, sluit in die leerder se mees onlangse amptelike skoolrapport (waar van toepassing), gesertifiseerde bewys van identiteit soos ‘n geboortesertifikaat, ID of paspoort, asook bewys van adres, byvoorbeeld die ouers se tuiste se munisipale rekening, huurooreenkoms of beëdigde verklaring.
Vir buitelandse leerders word ‘n paspoort, studiepermit, bewys van aansoek vir ‘n permit of ‘n afskrif van ‘n ouer se asielsoeker- of vlugtelingpermit vereis.
Indien geen van hierdie dokumente beskikbaar is nie, sal ‘n beëdigde verklaring van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanvaar word.
Vir primêreskoolaansoeke moet ‘n inentingskaart (Road to Health-sertifikaat) ook ingedien word.
Sodra al die dokumente bymekaargemaak en opgelaai is, behoort die voltooiing van die aanlyn aansoekproses vinnig te verloop.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het ook ‘n nul-gegradeerde aanlyn stelsel beskikbaar gestel, wat beteken dat ouers dit kan gebruik sonder om mobiele data te verbruik.
Ouers kan aansoek doen by: www.westerncape.gov.za/education/service/learner-admissions.
Die webblad bevat ook stap-vir-stap riglyne en video-aanwysings om ouers deur die proses te help.
David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, het ‘n beroep op alle ouers van leerders wat in 2027 in grade R, 1 en 8 gaan weesd, gedoen om betyds aansoek te doen.
“Elke jaar plaas duisende laat aansoeke enorme druk op die stelsel en vertraag dit die plasingsproses. Deur tydens die amptelike aansoekvenster aansoek te doen, help dit ons om vir elke kind ‘n plek in ‘n skool te beplan,” het hy gesê.




