Vir inwoners en padgebruikers in die Agterbaai wat bekommerd was oor die aantal voertuie met konstruksieligte wat onlangs op die pad tussen Stompneusbaai en Brittaniabaai gesien is, is dit bemoedigende nuus.
Dié stuk teerpad, bekend as Geproklameerde Ondergeskikte Pad (OP) 7664, staan tans op die Wes-Kaapse regering se departement van infrastruktuur (Pad-owerheid) se prioriteitslys vir toekomstige herseëlwerk. Dit strek van die Stompneusbaai-woonbuurt tot by Kreefbaaiweg in Britanniabaai.
Die verkeersdrukte op dié pad na Duykereiland het weens die verskeie snelgroeiende woonbuurtes in St. Helenabaai, soos Lampiesbaai, Golden Mile en Britanniabaai, skerp toegeneem.
Mense wat dit daagliks gebruik, kan duidelike tekens van agteruitgang sien, veral op die padoppervlakte en padskouers. Volgens Rohann Stander, senior bestuurder vir paaie by die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM), was die bedrywighede op die pad deel van die departement se opleidingsprogram vir komende visuele inspeksies en evaluering van gruis-en teerpaaie deur konsultante wat die departement aanstel om dié taak te verrig. Die opleiding het oor vier dae in Langebaan plaasgevind en paaie in die omgewing is vir dié doeleindes gebruik
“Die toekomstige herseël van OP 7664 is wél hoog op die departement se voorkeurlys, maar dit is nog nie ‘n gegewe wanneer dit gedoen gaan word nie,” sê Stander.
Tweedens vorder ‘n ander groot padprojek op die R365 tussen Piketberg en Redelinghuys (Hoofpad 531). Hierdie multimiljoenrand-projek word volgens plan uitgevoer en behoort teen einde Maart vanjaar voltooi te wees. Al twee projekte sluit instandhouding in, soos herseëlwerk en die aanbring van nuwe padtekens. Die OP 7664-werk fokus op die Agterbaai-omgewing en word deur die departement se padowerheid beplan, terwyl die R365-projek reeds aktief deur die WKDM as onderhoudsowerheid van die betrokke pad uitgevoer word.
Die doel van albei projekte is om die bate te beskerm en padveiligheid vir gebruikers te verbeter. Volgens die distriksmunisipaliteit is dit ook deel van sy huidige program om noodsaaklike instandhouding op geproklameerde paaie in die aanloop tot die komende wintermaande te doen. Motoriste wat op die R365 tussen Piketberg en Redelinghuys reis, moet daarop let dat ‘n 24-uur- enkel-laansluiting van toepassing is en ook dat stop/ry-beheerpunte gebruik word.
Dit behoort teen 18 Maart te verslap na slegs ‘n enkellaansluiting gedurende die dag, sodat die nodige opruimingswerk kan geskied.







