Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van die Weskus-polisie.
’n Vrou het haar kêrel op Saterdag 1 Maart gevra om haar woonplek in Rooikransstraat, Hopefield, te verlaat. ‘n Stryery het ontstaan, waarna die man die huis binnegegaan en met ‘n byl teruggekeer het. Hy het die klaagster deur die gesig geslaan. Sy het beserings opgedoen, insluitend los tande en snywonde aan haar lip, wat met sewe steke geheg moes word. Haar neus is ook beseer. ‘n Saak van aanranding met ‘n gevaarlike wapen word ondersoek. Drie mense is op Sondag 15 Maart in verband met dié voorval vir openbare dronkenskap en oproerige gedrag in hegtenis geneem.
’n Minderjarige klaagster en haar vriend het die afgelope Sondag 15 (Maart) in Amandelstraat gestap toe hulle deur ‘n man genader is, wat na bewering ‘n bakleiery wou begin. Hulle het omgedraai om na hul woonplek terug te keer, maar die verdagte het hulle agtervolg en die klaagster met ‘n mes in die skouer gesteek. Beide die klaagster en verdagte is minderjarig. Die Hopefield-polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die Vredenburg-polisie het verskeie voorvalle gehad waar inwoners se selfone geroof is terwyl hulle gestap het. Kol. Lindie Marx, die stasiebevelvoerder, maan mense om níé hul selfone te gebruik terwyl hulle iewers heen stap nie. “Hou jou selfoon buite sig.”
Die Saldanha-polisie het op Vrydag 13 Maart omstreeks 16:10 inligting opgevolg oor ‘n onwettige vuurwapen in Diazville, Saldanha. ‘n Man is in besit van ‘n zip gun (tuisgemaakte vuurwapen) betrap en in hegtenis geneem.
Lede van die Saldanha-polisie het Maandag (15 Maart) omstreeks 00:50 inligting opgevolg oor ‘n skietvoorval wat vroeër dié week plaasgevind het. ‘n Verdagte voertuig het buite stilgehou terwyl hulle die perseel deursoek het. Die lede het toe die voertuig deurgesoek en etlike 9 mm-patrone gekry. Die bestuurder kon nie ‘n lisensie vir die ammunisie toon nie. Die man is in hegtenis geneem.
Die St. Helenabaai- polisie het op Dinsdag 10 Maart ‘n klagte ontvang van iemand wat nie in ‘n woonplek hoort nie, maar daar aangetref is. Hy is in hegtenis geneem.
Twee mense, albei 19 jaar oud, is op Donderdag 12 Maart in hegtenis geneem weens ‘n klagte oor vermeende diefstal by ‘n winkel in St. Helenabaai. Die eienaar is met die dood gedreig toe hy hulle op heterdaad betrap het. Albei oortreders is 19 jaar oud. ‘n Diefstal- en intimidasie-saak is by die polisie aangemeld.
Vier mense is die afgelope week in St. Helenabaai weens die besit van gevaarlike wapens in hegtenis geneem. Een verdagte (36) is ook weens huisbraak en diefstal in hegtenis geneem.
’n Jong man het die afgelope Sondag (15 Maart) saam met mense in Noordhoek, Velddrif, gekuier toe ‘n stryery tussen hom en ‘n groep ander mans ontstaan het. Hy het weggestap van die kuierplek af, waarop die groep hom na bewering agternagesit en aangeval het. Hy is een keer in die bors gesteek, waarna hy op die toneel gesterf het. ‘n Vrou wat probeer tussenbeide tree het, is in die linkerskouer gesteek. Sy moes mediese behandeling ontvang. Niemand is nog in verband met dié voorval, wat omstreeks 01:40 gebeur het, in hegtenis geneem nie.





