Wat kry jy wanneer jy ’n klassiek-opgeleide sangeres van Franskraal en ’n popsanger van Yzerfontein saambring vir ’n samewerking? ‘n Musikale meesterstuk wat emosie ontlok en jou verby ruimte en tyd laat beweeg.

André Huysamen van Yzerfontuin en Nianell het onlangs kragte saamgesnoer om hulle eie weergawe van Snow Patrol se Run op te neem. 

Volgens Nianell is Huysamen ‘n uitsonderlike siel. “Van ons eerste ontmoeting tot ons onlangse duet, het sy sensitiwiteit en toewyding nog altyd deurgeskyn. Dit is ’n vreugde om saam met iemand te werk wat my toewyding deel om die wêreld te inspireer en ons kollektiewe eenheid met die Goddelike te vier, vertell Nianell.

Nianell.

Vir Huysamen is hierdie samewerking ‘n absolute droom wat waar geword het en ’n volle sirkel-oomblik.

“Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger en bewonderaar van Nianell. Haar stem het die vermoë om jou op ’n geestelike reis te neem. Haar liefde, kalmte en vriendelikheid is ’n ware plesier om te beleef. Alles wat sy doen, voel so magies en moeiteloos. My hart is gevul met soveel dankbaarheid vir hierdie pragtige projek, en ek hoop dit raak ander mense se harte net soveel soos wat dit myne geraak het,” het hy gedeel.

Die sanger André Huysamen.

Huysamen het die duet tydens ‘n uitverkoopte vertoning op Vrydag 6 Maart in Yzerfontein bekendgestel.

“Dit was regtig ‘n hoendervleis-oomblik. Twee dames wat reg voor gesit het, het kort-kort trane afgevee. Dit het weereens bewys hoe kragtig musiek is — hoe dit mense kan saambring en hulle op ’n sielvolle reis kan neem.”

Die vertoning was in samewerking met Tiaan Grundling en het ook die eerste stop van hul “Vat My Saam-toer gemerk.

“Ons kon nie ’n beter dorp gekies het om die toer mee af te skop nie. Yzerfontein het soveel hart en gees. Daar was 120 mense wat die vertoning bygewoon het en heerlik saam met ons gesing en gedans het. Dit was ongelooflik spesiaal. Ons sien baie uit daarna om met hierdie produksie ook ander dorpe aan die Weskus te besoek.”

Die lied Run is vanaf Vrydag 13 Maart, op alle digitale platforms beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article