As Februarie die maand van liefde is, is Maart beslis die Weskus se maand van partytjie! Die maand het sommer in die eerste naweek begin met die Jazz op the Rocks-fees in die Columbine-natuurreservaat, en die afgelope naweek was net so bedrywig.

Vrydagmiddag kon besoekers liplek-lekker eetgoed by Huis Wittekruin op Vredenburg se jaarlikse basaar koop. Die tafels wat kreun onder aanbiedinge, stel nooit teleur nie, en baie mense spaar jaarliks vir dié geleentheid.

Saterdag het die Megaforce Weskus-motorfietsklub se jaarlikse Sleepover by Kleine Hopefield plaasgevind. Plaaslike motorfietsklubs sowel as klubs van oor die Kaap heen het deelgeneem aan speletjies en pret. Dieselfde oggend is ‘n mark by De Palm in St Helenabaai gehou.

Later die dag het Velddrif begin vibreer van die aktiwiteite en musiek by die gewilde Weskus-kuierkonsert by die Laaiplek-hotel. Die kombinasie van goeie musiek en vermaak lok jaarliks oud en jonk.

Die res van die maand is reeds volgeboek met geleenthede vir pret en Weskus-plesier, en dit lyk of organiseerders probeer om die droë, warm Maartmaand ten volle te benut voordat die reënseisoen in April begin. “Volgende maand kla ons weer as dit dae aaneen reën,” sê ‘n kliënt oor die hitte wat die Weskus hierdie week getref het.

Dit is so, maar vir eers, kom ons geniet dit net, Maart, die Weskus se partytjiemaand!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article