Hayley Smith (projekbestuurder), Luthando Sixishe (musikant), dr. Zaino Petersen (HSRC), Chriselda Saul (ELRU), Leana Olivier (uitvoerende hoof van FARR), sr. Christelle Annandale (departement van gesondheid), dr. Lynette Rossouw (Inner Wheel) en Elloise Karolus (gemeenskapswerker).

Die Foundation for Alcohol Related Research (FARR) het op Donderdag 26 Februarie sy laaste seminaar en afsluitingsgeleentheid by die Saldanhabaai-hotel aangebied.

Die dag was gevul met trots oor die werk wat gedoen is, maar ook hartseer oor die einde van ‘n projek wat die Weskusgemeenskap vir meer as ‘n dekade bedien het.

Sedert 2013 is die Weskusprojek deur die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gefinansier. In April 2025 het die FARR-direksie die besluit geneem om die projek, en uiteindelik ook die organisasie, te sluit. As navorsingsgebaseerde instelling het FARR toenemend gesukkel om volhoubare finansiering vir navorsing te bekom. Tog sluit die organisasie sy deure op ‘n hoogtepunt: Sedert 1997 het FARR 20 internasionaal erkende gemeenskapsvoorkomstudies vir Fetale Alkohol Spektrum Afwykings (Fasa) gedoen – die meeste in die wêreld en 77 wetenskaplike artikels gepubliseer. Daarby het die organisasie meer as 20 gemeenskapsprojekte in vyf provinsies voltooi en duisende professionele diensverskaffers opgelei. Verskeie nagraadse studente, aan internasionale universiteite, het, in samewerking met FARR doktorale en meestersgrade verwerf. Die grootste impak is egter dat FARR se werksaamhede in hul projekareas tot ‘n drastiese vermindering in Fasa-geboortes gelei het.

Onder die tema “Legacy of Hope” het rolspelers uit verskeie regeringsdepartemente en gemeenskapsorganisasies die seminaar bygewoon.

Hayley Smith, projekbestuur- der van FARR Weskus, het die verrigtinge geopen, waarna die uitvoerende hoof, dr. Leana Olivier, ‘n oorsig van die projek se reis van 2013 tot 2026 gedeel het. Charnine Sobey, opleidingshoof, het ‘n oorsig oor Fasa gegee en die boodskap van hoop en nalatenskap verder beklemtoon.

Oor die afgelope 13 jaar het duisende inwoners van die Weskus aan projekte en opleidingsessies deelgeneem. Die “Het Jy 3-Minute?”-bewusmakingsprogram alleen het 22 851 gemeenskapslede bereik. FARR het deurgaans die boodskap versprei dat geen hoeveelheid alkohol tydens swangerskap veilig is nie, en het daarmee ‘n kultuur van verantwoordelikheid en bewustheid gevestig. Oor die afgelope 13 jaar het duisende inwoners van die Weskus aan projekte en opleidingsessies deelgeneem.

Verskeie sprekers, onder wie verteenwoordigers van die Departement van Gesondheid, die polisie, Human Science Research Council, ELRU en Inner Wheel, het FARR bedank vir sy baanbrekersnavorsing, dienslewering en samewerking. Met ‘n Fasa-voorkomssyfer van 68 per

1 000 geboortes (6,8%) in die streek, teenoor ‘n internasionale gemiddelde van minder as 1%, is dit duidelik dat FARR se intervensies noodsaaklik was en dat voortgesette insette van alle rolspelers nodig bly, selfs ná die organisasie se vertrek.

Die dag is ligter gemaak deur ‘n musiekbydrae van Luthando Sixishe, terwyl Elloise Karolus, FARR-gemeenskapswerker, die verrigtinge afgesluit het met ‘n hartlike dankwoord aan almal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article