Heraklitus, ‘n Griekse filosoof wat ongeveer 540–480 v.C. geleef het, het veral nagedink oor die verandering en vloei van die lewe, en die gesegde wat in verlede week se hoofartikel gebruik is, dat “die enigste konstante in die lewe verandering is”, het hy eerste neergepen.
Hy het geglo dat niks ooit stilstaan of onveranderlik is nie, en om die wêreld te begryp moet ‘n mens konstante beweging en transformasie as ‘n gegewe in die lewe sien. Weslander en sy personeel het ook die afgelope jaar konstante groei en verandering deurleef.
Ná 54 jaar wat die koerant getrou by betaalpunte en op straat te koop was, pas ons aan by die tye en word die gedrukte weergawe van vandag af gratis versprei.
Hierdie verandering gaan ‘n aanpassing vir getroue lesers wees, hopenlik ten goede. Gebruik nou maar eerder die R16 per maand vir ‘n ekstra brood. Hoewel dié bedrag nie ‘n grênd brood kan koop nie, maar die supermarkte se eie gebakte brood. Dié wat nie in fênsie sakkies met handelsname en logo’s kom nie.
Ons verbintenis met ons lesers bly egter net so sterk.
Ons het geluister na julle behoeftes en maak dit nou baie makliker om die gedrukte weergawe in die hande te kry, en daarmee saam om kraakvars nuus uit 22 dorpe so gou as moontlik vir ons groeiende digitaal-bewuste lesers aanlyn te kry.



