Dié ou geboue langs die Paternoster Waterfront gaan dalk herontwikkel word. Foto’s: Danie Hefers

‘n Openbaredeelnameproses is begin om bestaande, hoofsaaklik uitgediende, akwakultuurgeriewe in geboue langs die Paternoster Waterfront in die dorp buite werking te stel.

Die bekende Waterfront, met sy talle eetplekke, is ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid in die Weskus.

Die eienaars van die Waterfront, Paternoster Groepbelange, wil van die ou akwakultuurgeboue herontwikkel en omskep in onder meer 11 verblyfeenhede op grondvlak vir vakansiegangers, ‘n wassery en ontspanningsgeriewe.

Volgens Groepbelange sal geen geboue gesloop word óf oorgebou word nie.

Die bestaande kreeftenks sal ook behoue bly. ‘n Kreeffabriek en ander bedrywighede in die aangrensende Waterfront word nie deur die beoogde herontwikkeling geraak nie.

Die geboue wat vir herontwikkeling geoormerk is en op ‘n gedeelte van 1,21 hektaar van Plaas 1259 geleë is, grens aan die bestaande Waterfront wat op Erf 2063 in die dorp ontwikkel is.

Die geboue wat herontwikkel gaan word, is deur die jare vir verskeie visbedryf-aktiwiteite aangewend, onder meer perlemoen- en forelboerdery en kreefhantering. Tans word slegs ‘n klein hoeveelheid kreef in die bestaande tenks op die terrein hanteer.

Van die geboue word ook tans as stoorgeriewe gebruik.

Die beoogde herontwikkeling benodig egter omgewingsgoedkeuring weens die buitewerkingstelling van die akwakultuurgeriewe.

Groepbelange moet ook die gebied eers van ‘n nywerheidsgebied na ‘n sakeperseel laat hersoneer, voordat die beoogde herontwikkeling kan plaasvind.

Openbare kommentaar kan nog tot Donderdag 26 Maart gelewer word.

Kontak Dupré Lombaard van Virdus Works Environmental by 082 895 6362 per Whatsapp of stuur ‘n e-pos na dupre.lombaard@virdus.com vir nog inligting.

Openbare kommentaar word nog tot Donderdag 26 Maart ingewag voordat die herontwikkeling van dié gebied langs die Paternoster Waterfront kan voortgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article