Die Vredenburg-tuinbouklub vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.
Die klub het in April 2001 by die huis van Olga Victor in Vredenburg begin nadat ‘n behoefte raakgesien is om Weskussers met raad te help wanneer dit by tuinmaak in die Weskus kom. Erna du Plessis, die voorsitter van die Vredenburg-tuinbouklub, sê die doel van die klub is om plantkennis uit te brei en lede te motiveer om entoesiastiese tuiniers te wees.
“Die klub het met ongeveer 15 lede begin en oor die jare tot ongeveer 35 gegroei. Enkele hoogtepunte was uitstappies na plekke soos die Shuttleworth-tuine, Babylonstoorn, Kirstenbosch en proteaplase.

Sprekers soos Barbara Hay (voormalige mentor van Margaret Roberts), Pippa Haarhoff (Weskus-fossielpark) en Deon van Eden (Vula) het groot belangstelling gelok. Baie interessante werksessies is ook oor die jare aangebied om iets nuttigs vir jou tuin te maak,” vertel Du Plessis.
Met die klub se 25-jaar-mylpaal voel dit vir Du Plessis, as een van die stigterslede, soos ‘n baba wat nou ‘n goed gebalanseerde volwassene geword het en ‘n positiewe bydrae tot die gemeenskap kan lewer. “Ons het covid oorleef en gaan steeds van krag tot krag.”
Vanjaar beplan hulle ‘n baie opwindende kalender met interessante sprekers, heerlike uitstappies en wonderlike werksessies. “Ons hoogtepunt sal wees wanneer ons ons 25ste verjaardag op Dinsdag 28 April met ‘n heerlike program gaan vier. Ons is dankbaar teenoor ons Hemelse Vader deur wie ons elke dag bewus gemaak word hoe wonderlik ons tuine en omgewing geskape is en met Sy genade versorg word.
“Ook aan Weslander, wat sedert ons eerste vergadering ons aktiwiteite en programme getrou geplaas het. Ons het ook ‘n Facebook-blad wat besoek kan word (wat ons graag meer aktief wil bestuur).”
Du Plessis voeg by hoewel hulle ‘n paar manlike lede het, word nog mans genooi om hul kennis te kom deel.
“Ons sien uit na ‘n opwindende jaar.”
•Die Vredenburg-tuinbouklub hou sy eerste bekendstellings vergardering om 10:00 by Forest Friends in Vredenburg op Woensdag 28 Januarie. Vir meer inligting kontak Erna by 083 285 2729.






You must be logged in to post a comment.