Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Mervin Mouries (65) van Elandsbaai is op Sondag 18 Januarie omstreeks 21:20 onder raaiselagtige omstandighede dood. Mouries het na bewering saam met vriende by sy woonplek aangekom, waarop die vriende bloed op sy pet en broek opgemerk het. Hy is op die toneel dood. Volgens die Elandsbaai-polisie het hy ‘n merkie van ongeveer 5mm op sy kop en ‘n klein merkie op sy kuit gehad.
Mosito Matlanyane (29), ‘n Lesotho-burger, is Saterdag 17 Januarie om 10:50 in Voortrekkerstraat, Citrusdal, in hegtenis geneem nadat hy ‘n verkeersbeampte met R100 probeer omkoop het. Die beampte het ‘n boete vir hom uitgeskryf. Matlanyane het Maandag in die landdroshof verskyn.
Hosea Davids (38) is Vrydag 16 Januarie omstreeks 22:45 twee keer in Chatsworth, Malmesbury, in die kop geskiet. Hy is later in die plaaslike hospitaal oorlede.
Siphamandla Zenzile (30) van Riebeek-Wes is Sondagoggend omstreeks 08:55 in die Swartland-hospitaal oorlede nadat hy met ‘n mes in die bors gesteek is. Khuselo Qamka (23) het Dinsdag op aanklag van moord in die Malmesbury landdroshof verskyn.
’n 18-jarige man is Vrydag 16 Januarie omstreeks 11:00 in Kalbaskraal, Malmesbury, in die been geskiet. Die skieter en twee makkers het die klaer en ‘n vriend na bewering het in Sandstraat met klippe gegooi. Die skieter het daarna in die klaer se rigting gehardloop en ‘n skoot afgevuur. Toe die klaer en sy vriend na die skieter toe beweeg, het die skieter die klaer in die been geskiet en van die toneel af gevlug.
Op Sondag 18 Januarie omstreeks 21:30 is ‘n skoot op die woning van ‘n 38-jarige man in Ysterstraat, Ongegund, in Vredenburg, afgevuur. Die man en sy vrou is nie getref nie, maar ‘n ruit en die blindings is beskadig.
Wilburn Boois (31) is betrap toe hy potte konfyt, wat hy glo by die 75-jarige klaer uit haar huis in Graafwater gesteel het, in Leipoldtville verkoop het. Hy het Maandag in die landdroshof verskyn.
‘n Bakleiery het Sondag 18 Januarie in Nuwerus om omstreeks 21:30 by ‘n kuierplek in Langstraat, Bitterfontein, uitgebreek. Die betrokke partye het sake van aanranding oor en weer teen mekaar aangemeld.
Jacobus Fredericks (58) het Saterdag 17 Januarie omstreeks 11:30 glo ‘n 68-jarige man met ‘n klip in die gesig gegooi omdat die klaer nie wou hê dat Fredericks saam met hom en sy kinders drink nie. Die voorval het in Dahliastraat, Eendekuil, plaasgevind. Fredericks het Dinsdag in die landdroshof verskyn.
’n Broodboom van R5 000 is tussen 14 en 17 Januarie uit ‘n tuin in St. Helenabaai gesteel.
’n 16-jarige seun het Vrydag 16 Januarie omstreeks 10:40 glo ‘n 43-jarige vrou by haar werk in Citrusdal met ‘n graaf geïntimideer en gedreig. Hy het Maandag in die landdroshof verskyn.
In Darling is ‘n 54-jarige geestelik gestremde man Saterdag 17 Januarie omstreeks 20:45 op die hoek van Kerk- en Voortrekkerstraat deur ‘n wit voertuig omgery. Die slagoffer, wat nie kan praat nie, het kopbeserings opgedoen. Die bestuurder het nie stilgehou nie en weggejaag.
Die Piketberg-landdroshof het Maandag 19 Januarie gelas dat ‘n 43-jarige vrou op aanklag van meineed in hegtenis geneem word nadat sy na bewering in die hof gelieg het. Dieselfde vrou is reeds in ‘n 2015-saak van crimen injuria skuldig bevind.




