Een van die Agterbaai se drie visfabrieke het onlangs sy blinknuwe vismeel-aanleg ingewy.
Willie Aucamp, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, het die multimiljoenrandse uitbreiding by die Oranjevis-fabriek in St. Helenabaai verlede Donderdag (15 Januarie) amptelik geopen. Die 600-ton-aanleg is teen ‘n koste van meer as R170 miljoen opgerig en skep dosyne broodnodige werksgeleenthede.Dié aanleg in die Pioneer Fishing-groep produseer vismeel, visolie en geblikte vis.

In sy toespraak tydens die openingsgeleentheid het die minister die waarde van beleggings beklemtoon, veral dié wat ekonomiese groei en volhoubaarheid ondersteun. Volgens Aucamp is die R170 miljoen-belegging ‘n teken van vertroue en bevestig dit die waarde van vennootskappe.
Stephen Dondolo, die groep- uitvoerende hoof van die African Pioneer Group, sê die nuwe vismeel-aanleg gebruik tegnologie wat gehalte en produksie verbeter en druk op bestaande kapasiteit verlig.
“Dit is ‘n ekonomiese belegging in St. Helenabaai én die gemeenskap,” het hy gesê.
Die aanleg is ook deur André Truter, die Uitvoerende Burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, verwelkom. Volgens Truter bevestig die projek vertroue in die Weskus en versterk dit die waardeketting in die visbedryf. “Die SBM-gebied ervaar ongekende navrae en investering. Aanvanklik het dit afgetredenes gelok wat hulle hier kom vestig het, maar nou is dit ekonomies aktiewe mense. Die meeste nuwe sakeondernemings het in die afgelope vyf jaar in die SBM-gebied geopen. Die nuwe vismeel-aanleg is ‘n stem van vertroue in die streek se ekonomie, in St. Helenabaai én in sy mense.”




You must be logged in to post a comment.