Twee Weskusmanne het die Blitsbokke se glans nog helderder laat skyn. Shilton van Wyk van Saldanha is ná die HSBC-Kaapstad-7’s-eindstryd as speler van die wedstryd aangewys én Donovan “Don” van Velddrif se stil, toegewyde insette het agter die skerms ‘n tasbare verskil in die span se momentum gemaak.
Die Blitsbokke het weer eens bewys dat Kaapstad een van hul gunstelingplekke is om te speel en die eindstryd het ‘n spannende einde gehad toe hul verdoelde drie tot ‘n oorwinning van 21–19 oor Argentinië gelei het.

Met dié oorwinning het hulle gewys hulle het nie hul gelyke in Kaapstad nie en die HSBC-Kaapstad-7’s-kroon behou. Australië se vrouespan het die vrouekroon gewen toe hulle Nieu-Seeland geklop het.
Nadat die Springbok-7’s-span ‘n week gelede vyfde in Doebai geëindig het, het Suid-Afrikaners se aandag na die HSBC-7’s-toernooi in Kaapstad in die DHL- stadion in Groenpunt verskuif.
Die Blitsbokke het geskiedenis gemaak deur die eerste mansspan te word wat die Kaapstad-titel suksesvol verdedig. Ná afloop van die wedstryd het die Springbo7’s-kaptein, Impi Visser, gesê die span het ‘n eenvoudige leuse vir die naweek gehad: “Bly in die oomblik.”
Visser het sy span se vermoë as deurslaggewend beskou vir ‘n tweede agtereenvolgende HSBC-7’s-Kaapstad-titel in die DHL-stadion op Sondag 7 Desember, toe die Blitsbokke met twee minute oor, diep moes delf . nadat hulle 19-14 agter was ná Argentinië se derde drie net voor rustyd – wat die Suid-Afrikaners angstig gelaat het.
“Ons het dit reggekry toe die groot oomblik op hande was en ons gereed was om dit te hanteer – dit was vandag die verskil,” het Visser gesê.
Die kaptein het verder gesê die oorwinning in die tweede ronde van die HSBC-7’s-seisoen het hul terugkeer voltooi ná ‘n teleurstellende vyfde plek in Doebai verlede naweek.
“Ons wou terugkom en dinge regstel, want ons het nie die trui regtig eer aangedoen nie. Hierdie naweek het ons teen baie sterk teenstanders gewys ons glo nog in die trui en waarvoor dit staan,” het hy bygevoeg.
Visser het ook erkenning gegee aan die breër groep spelers wat met voorbereiding gehelp het en het die Kaapstadse skare vir hul rol in die oorwinning geprys.
“Hulle was instrumenteel; hulle het energie gebring en ons elke keer opgetel wanneer ons ‘n fout gemaak het.”
Visser het spesiaal verwys na Christie Grobbelaar, wat die eerste keer in Kaapstad kon wen, en Nabo Sokoyi, wat as nuweling ‘n groot bydrae in die eindstryd gelewer het.
‘n Rekordgetal 68 124 toeskouers – 36 183 Saterdag en 31 941 Sondag – het die toernooi bygewoon, waar 267 ongelooflike drieë oor die twee dae gedruk en deur die toeskouers gesien is.
Suid-Afrika is met dié oorwinning nou saam met Nieu-Seeland en Fiji bo-aan die punteleer met 32 punte ná twee toernooie, gevolg deur Frankryk (28), Australië (26) en Argentinië (24).
Shilton van Wyk, die speler van die eindstryd, het die ondersteuners en sy spanmaats vir ‘n ongelooflike HSBC-Kaapstad-7’s-toernooi bedank, maar eerstens alle eer aan God gegee. Hy het die toernooi dag vir dag geneem om as wenners bo uit te kom, het Van Wyk ná die eindstryd gesê.






You must be logged in to post a comment.