Elandsbaai – Ontstoke en bekommerde inwoners, boere en omgewingsaktiviste beweer brande op die vullisterrein grens aan onverantwoordelike munisipale bestuur en strafbare verwaarlosing. Volgens hulle is dit nie net skadelik vir mens en dier nie – hulle meen dit bedreig die omliggende natuurlewe en selfs die wêreldbekende Verlorenvlei-bewaringsgebied.
Volgens ‘n boer wie se huis sowat ‘n kilometer van die “bron van kwaad” geleë is, versmoor hulle van die rook as dit brand.

Sommige inwoners sê hulle het nou genoeg gehad van jare lange wanbestuur, plastiek wat verbrand word en giftige rook wat hul lewe versuur en hul gesondheid bedreig.
Weslander het die dorp besoek om uit te vind waaroor dié beswaardes kla. Hulle het gewis goeie rede om bekommerd te wees. Elandsbaai se omstrede munisipale vullis-stortingsterrein, vlak buite die dorp, is inderdaad ‘n skokkende oogseer en in ‘n haglike toestand.
Geen toegangsbeheer of munisipale toesig was te bespeur toe Weslander die terrein op 3 Desember besoek het nie. Slegs geroeste heinings wat omtuimel weens opgehoopte vullisdruk en geen toegangshek, is die toneel wat ‘n besoeker begroet. Tydens Weslander se besoek is vullis en rommel steeds druk gestort.
Die swart-gebrande terrein lê besaai met tuinvullis, sakke huishoudelike vullis, bourommel, plastiekhouers, glasbottels en selfs ‘n wit bad. Ván dit het nog gesmeul nadat dit blykbaar die vorige aand die soveelste keer die laaste paar weke aan die brand gesteek is.
Wanneer vullis brand en die berugte Weskuswind waai, is dit mens en dier wat die swart rook moet verduur.

Fred van Zyl, ‘n boer wat naby die stortingsterrein op die plaas Tuurheuwel woon, beskryf dit as ‘n “algehele gemors”. “Plastieksakke waai die hele wêreld vol en wanneer hulle dit aan die brand steek, kan ons dit nie hou nie. Dan versmoor ons van die rook. Dit brand slegs snags en ek het geen idee wie dit doen nie. Jy kan mos nie plastiek verbrand nie. Dit is sleg vir ons gesondheid.

“Kla help ook nie. Hulle steur hulle nie aan ons klagtes nie. Die munisipaliteit moet vasgevat word.”
Niemand aangekeer
Foto’s wat deur Felicity Strange van die Friends of Verlorenvlei-aksiegroep aan Weslander gestuur is, toon dat vullisverbranding op die stortingsterrein al sedert 2012 plaasvind.
“Hoekom word dié gebrek aan bestuur en beheer van die Elandsbaai-stortingsterrein toegelaat? As dit ‘n strafregtelike oortreding is om ‘n munisipale stortingsterrein aan die brand te steek en die oortreders is bekend, hoekom word niemand aangekeer nie?” vra Strange.
Weslander het die Cederberg-munisipaliteit in Clanwilliam vir kommentaar genader. Volgens Riaan de Ridder, die munisipaliteit se tegniese direkteur, word probleme en historiese uitdagings met Elandsbaai se stortingsterrein tans aangepak. De Ridder het namens Cederberg verskoning gevra vir enige ongerief wat deur die brande en rook veroorsaak is. Hy sê dit geniet altyd groot voorkeur by die munisipaliteit wanneer sulke voorvalle plaasvind.
Cederberg wys die vinger na plaaslike inwoners wat die stortingsterrein onwettig betree en die brande veroorsaak.
“Dit is strafbare bedrywighede en ons verwelkom enige inligting wat kan lei tot die identifikasie en vervolging van diegene wat by sulke aktiwiteite betrokke is. Relevante inligting kan aan die munisipaliteit of die polisie voorsien word.
“Wanneer ‘n brand onder ons aandag gebring word, word stappe gedoen om dit te blus.”
Volgens De Ridder is die munisipaliteit besig met bedryfsplanne om afval op ‘n nuwe streeksterrein in Matzikama te stort en om te begin met die rehabilitasie van plaaslike stortingsterreine.
“Die betrokke departement het finansiering aangevra vir die vervanging van die heining, wat onwettige toegang tot die terrein sal voorkom.”
Die plaaslike regering beplan ook oop vullishouers (skips) langs die munisipale pompstasie by die stortingsterrein se ingang en, indien geld beskikbaar is, ‘n formele vullis-aflaaigerief in die volgende twee jaar.

Donker prentjie
Die burgerregte-organisasie AfriForum se jongste jaarlikse ouditverslag, wat die land se vullis-stortingsterreine monitor, skets ‘n donker prentjie.
Volgens Jurie Ferreira, ‘n streekhoof van die organisasie, toon hul 2025-oudit dat slegs een uit elke vyf terreine landswyd aan die minimumvereistes voldoen om gemeenskappe en die omgewing te beskerm.
AfriForum werk landswyd saam met plaaslike gemeenskappe om ‘n onafhanklike en omvattende oudit van stortingsterreine te doen.
“Hoewel die meeste provinsies vanjaar swak gevaar het, was Gauteng en die Wes-Kaap die twee bestes. Veral Overstrand en Saldanhabaai het uitstekend gevaar, met al hulle terreine wat AfriForum se oudit geslaag het. Dit maak die situasie in Elandsbaai des te meer kommerwekkend.”

Volgens Ferreira is plaaslike regerings regtens verantwoordelik vir die behoorlike lisensiëring, operasionele bestuur, instandhouding en omgewingsmonitering van vullis-stortingsterreine.
“Die provinsiale departemente van omgewingsake moet toesig hou, nakoming afdwing en daadwerklik ingryp waar terreine nie aan die basiese vereistes voldoen nie.”
Volgens AfriForum se jongste verslag word die land deur ‘n vullisterreinkrisis in die gesig gestaar.
• Weslander het die Wes-Kaapse departement van omgewingsake op 3 Desember per e-pos genader vir kommentaar oor die Elandsbaai-vullisterrein, maar hetnog geen terugvoer ontvang nie.






You must be logged in to post a comment.