Die organisasie Healthy Futures South Africa (HFSA) het sy tweede gemeenskapsbelanghebbersbetrokkenheidsvergadering by die Louwville-gemeenskapsaal op Dinsdag 18 November aangebied.
Altesaam 93 toegewyde deelnemers van munisipale amptenare en gesondheidswerkers tot opvoeders, jeugverteenwoordigers en plaaslike inwoners het bymekaargekom om die dringendste gesondheids- en gemeenskapsuitdagings aan te pak.
Die byeenkoms was ‘n konkrete stap van ‘n vastelandwye inisiatief. HFSA is die plaaslike implementering van die Africa Health Collaborative, ‘n vennootskap gelei deur die Mastercard-stigting en nege universiteite, insluitend die Universiteit Kaapstad.
Die gedeelde doel is om ‘n generasie jongmense voor te berei vir die werk om gesondheid en welstand reg deur Afrika te transformeer.
Sibahle Maunye, ‘n woordvoerder vir HFSA, het gesê een dringende bron van kommer in die harte en gedagtes van baie Suid-Afrikaners is dwelmgebruik.
“Daarom het hierdie betrokkenheid ‘n aanbieding ingesluit oor die nuutste Planet Youth-data wat in hoërskole reg oor die Wes-Kaap ingesamel is. Planet Youth is ‘n program wat deur Healthy Futures South Africa ondersteun word en opnamedata van gr.-8- en gr.-9-leerders insamel. Hierdie data word gebruik om risikofaktore op gemeenskapsvlak te identifiseer en beskermende faktore te versterk, wat die gebruik van dwelms en ander negatiewe sosiale uitkomste onder jongmense verminder.
“Die insameling van hierdie inligting is ‘n belangrike stap in die rigting van die skep van programme wat gesonder lewens en ‘n helderder toekoms vir ons jeug en gemeenskappe bou.”
Maunye het gesê HFSA het reeds ‘n uitwerking in die gemeenskap begin maak.
“Ons het vroeër vanjaar ‘n gesondheids-entrepreneurskap-opleidingskamp in Vredenburg aangebied, waar 25 jongmense geleer het om plaaslike gesondheidsuitdagings te identifiseer en aan te pak deur vernuwing en ontwerpersdenke te gebruik.”
Sy voeg by dat die reis na ‘n gesonder, meer welvarende Saldanhabaai-munisipaliteit een is wat mense saam moet stap.
“Ons nooi jou uit om ‘n aktiewe deel van hierdie groeiende beweging te word. Of jy nou belangstel in gemeenskapsgesond- heidswerk, jeuggesondheidsprogramme of gesondheidsentrepreneurskap, jou stem, jou idees en jou vennootskap is noodsaaklik. Kom ons bou voort op ‘n toekoms waar elke jongmens die geleentheid het vir waardige werk, waar elke gesin toegang het tot gehaltesorg en waar die hele Saldanhabaai- munisipale gemeenskap bemagtig word om sy eie gesondheid en welstand te vorm.”





