‘n Man van Velddrif, wat sy rol as volwassene misbruik het om twee kinders van 10 en 13 jaar oud te verkrag, is lewenslank tronkstraf opgelê en sy naam gaan in die register vir seksuele oortreders opgeskryf word.
Die kinderverkragter Maarman Carolus (59) het reeds ‘n vorige vonnis vir ‘n verkragting in Redelinghuys uitgedien, waarvoor hy in 2011 in die Piketberg-landdroshof skuldig bevind is.
Dié keer is Carolus skuldig bevind op twee aanklagte van die verkragting van minderjarige kinders tussen 2022 en 2024.
Die aanklagtes van verkraging is by die Laaiplek-polisie aangemeld.
Die landdros, Da-Rocha Boltney, het Carolus verlede Woensdag (26 November) lewenslank op die eerste aanklag van verkragting en 25 jaar op die tweede verkragtingsaanklag gevonnis. Hy sal die vonnisse gelyktydig uitdien.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, was dit speur-konst. Refilwe “Fifi” Sekhobe van die Vredenburg-kinderbeskermingseenheid (FCS) se deursettingsvermoë en vasberadenheid as ondersoekbeampte in die saak wat daartoe gelei het dat die kinderverkragter agter tralies beland het. “Hy sal nie nóg ‘n jong, onskuldige meisie se lewe verwoes nie,” sê Helfrich.




