Johnny Da Silva glo aan ‘n Weskus waar elke onderneming kan floreer.

Ontmoet Johnny Da Silva (57), ‘n digitale-bemarking-spesialis, veelsydige sake-eienaar en voorsitter van die Velddrif-sakekamer.

Da Silva en sy vrou, Madeleine, is reeds 35 jaar getroud. Hul dogter woon in Amerika en hul seun werk op seiljagte. Da Silva is oorspronklik van Warrenton in die Noord-Kaap, maar het homself ook vir 25 jaar in Bloemfontein gevestig.
Die gesin woon die afgelope tien jaar in Velddrif. Weslander het Da Silva by sy sakeperseel en koffiewinkel in Velddrif, 3DOM & Co, ontmoet.

Johnny Da Silva glo aan ‘n Weskus waar elke onderneming kan floreer.

In Bloemfontein was hy die eienaar van verskeie Captain DoRego’s restaurante en in 2009 het hy die toekenning as Franchisee of the Year van die Franchise Association of South Africa (Fasa) ontvang.
Vir Da Silva is daar een goue reël as dit by sake kom, en dit is dienslewering.

“Dienslewering is vir my die kern van enige onderneming, of dit nou deel is van ‘n ketting-groep of ‘n private onderneming. In ‘n ketting-groep bepaal goeie diens die geloofwaardigheid van die hele handelsnaam, omdat klante oral dieselfde standaard verwag. Jou diens weerspieël dus nie net jou tak nie, maar elke ander tak in die land,” vertel Da Silva.

In die berig “Inspired to succeed” in die Sunday Times van 3 Mei 2009 word Da Silva se inspirerende suksesverhaal, wat uit nederige omstandighede ontstaan het, gedeel. Daarin word vertel van hoe hy as kind in sy ouers se winkel in Warrenton gewerk het en eerder saam met hulle wou gaan aankope doen en somme maak as om te gaan speel.

Da Silva beklemtoon dat sy groei gebou is op dissipline, ‘n sterk werksetiek, goeie voorsorg en ‘n vaste fokus op klantediens en in ‘n onderneming is diens meer belangrik en persoonlik.Volgens hom moet jy daagliks met jou eie hande aan jou reputasie bou. Mense ondersteun jou omdat hulle jou ken, jou waardeer en weet wat om te verwag. Jou verhouding met die gemeenskap word jou sterkste bemarking.

“As jou diens reg is, groei jou onderneming. As dit nie is nie, verloor jy mense. Dis die een aspek waarvan ‘n sake-eienaar nooit kan afsien nie,” vertel Da Silva.

Kanada toe:
Da Silva het sy inligtingstegnologieonderneming (IT) in 2008 begin is Kanada toe om alles oor digitale bemarking, webtuistes en die internet te leer, waar hy ook sy IT-akkreditasie ontvang het.

“Ek het teruggekom met ‘n doelgerigtheid om webtuistes te bou. Hoewel die mark in 2008 nog nie op webtuistes gefokus het nie, kon ek steeds ‘n een-stop- omvattende diens aanbied en as ‘n aanlyn reputasiebestuurpraktisyn ondernemings help om hul potensiaal te bereik.”

Dienslewering is steeds die goue reël in enigiets wat hy aanpak en so het mense hom in die Weskus leer ken.

“Ek sal slegs iets vir ‘n kliënt doen as ek weet dit gaan werk. Dienslewering is ‘n gevoel en elke kliënt met wie ek werk, moet daai gevoel beleef, anders doen ek iets verkeerd. Jy kan enige diens of produk op enige plek verkoop, maar as jy slegte diens kry, gaan mense jou nie ondersteun nie,” meen Da Silva.

Met hierdie dissipline, sterk sakewaardes en vasberadenheid om ‘n sukses te maak, is Da Silva in 2020 as voorsitter van die Velddrif-sakekamer verkies en dien vir die afgelope vyf jaar in die stoel.

“Die sakekamer vervul ‘n aktiewe rol in die plaaslike ekonomie deur ondernemings met leiding, voorligting en praktiese ondersteuning te versterk. Die sakekamer se visie is om ‘n volhoubare ekonomiese omgewing te skep waarin alle plaaslike ondernemings kan groei en ‘n waardige bestaan maak. Ons glo aan gesonde mededinging en dat daar plek is vir elke onderneming om te floreer.

“Sake-eienaars moet leiers wees en nie bloot nabootsers nie,” meen Da Silva.

Volgens hom werk die sakekamer daaraan om ‘n sterk stem in plaaslike regering te hê en bou vennootskappe met rolspelers soos die polisie en geloofsgemeenskappe.
Deur inisiatiewe soos ‘n gemeenskaplike gebeurteniskalender, waarin kerke, hotelle, wynfeeste en ander plaaslike aanbiedings saamgevat word, word samewerking versterk en ekonomiese aktiwiteit in die dorp bevorder.

Buiten die Velddrif-sakekamer is Da Silva ook betrokke by die Weskus- en groter Weskus-sakekamers, die Bergrivier-toerismeraad, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Port Owen eiendomsvereniging.

Sake en koffie:

“As almal hande vat en mekaar ondersteun, word die Weskus ‘n volhoubare omgewing. Ek glo daaraan om plaaslike ondernemings te ondersteun, want elke onderneming doen iets vir die volgende persoon en so word ‘n netwerk van ondersteuning geskep,” vertel hy en verduidelik dat sy koffiewinkel juis ontstaan het uit ‘n idee om mense bymekaar te kry en te dien as ‘n plek waar sakelui oor koffie ontmoet.

Hy vertel van die Velddrif-sakekamer se reeks ontwikkelingsinisiatiewe om klein ondernemings volhoubaar te laat groei. In plaas daarvan om noodsaaklike goedere net te gaan uitdeel waar dit nodig is, fokus die sakekamer op mentorskap, waar plaaslike kleinsake eienaars onder leiding van ervare sakelui ondersteuning ontvang.

Met die hulp van kundiges is ‘n entrepreneursprojek geskep wat basiese vaardigheidsontwikkeling insluit – van doeltreffende kommunikasie en basiese sakebeginsels tot volhoubare entrepreneursvaardighede.

“Die benadering is eenvoudig; leer mense hoe om hul eie kospakkie te maak, eerder as om net ‘n maaltyd uit te deel,” sê hy en vertel hierdie praktyk het reeds sigbare resultate getoon, soos die suksesverhaal van ‘n plaaslike tuindienste-onderneming, wat met die sakekamer se begeleiding van een voertuig tot ‘n vloot van drie bakkies gegroei het.

Da Silva verbind mense met mekaar, skep geleenthede en ondersteun veral jong entrepreneurs met die leuse “wat jy insit, is wat jy uitkry”.

Met ‘n hart vir die inwoners van die dorp en die ontwikkeling van ondernemings, beklemtoon hy dat uitstekende dienslewering altyd die fondament van sukses bly, ongeag die grootte of aard van die onderneming.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article