Alle paaie het die afgelope Saterdag (15 November) na die Boland-stadion in Wellington geloop vir die halfeindstryde in die Sanlam Boland Super-8, -10 en -16, en die pronkstuk van Boland Rugby, die Top-12.
Die Weskuskampioen, die Saldanhabaai-rugbyklub, het die voortou ná net twee minute geneem toe die skeidsregter ‘n strafskop weens onkantspel deur Villagers Worcester aan Saldanha toegeken het.
Craig van Rensburg het seker gemaak Villa sal nie weer dieselfde fout in trefafstand begaan nie en die bal sekuur deur die pale gejaag vir ‘n 3-0-voorsprong.
Villa het twee minute later teruggeslaan en die telling 5-3 gemaak toe Mario Marinus die eerste drie van die wedstryd in die linkerkantse hoek ná goeie voor- en agterspelerspel gedruk het.Saldanha het sy eerste lynstaan van die wedstryd teen Villa verloor, wat dit in ‘n aanval omgeskep het, maar Saldanha het dit afgeneem. Ongelukkig het hulle die bal in die doelgebied verloor toe hulle oorgedryf het.
Dit het hulle nie gestop nie maar verder aangevuur. Die voor- en agterspelers het goed gekombineer, wat gelei het tot Virgil Stoffberg se drie in die sewende minuut in die regterhoek, met Van Rensburg se doelskop in die kol en die telling nou 10-5. Nadat Saldanha ‘n losskrum in sy 22 m-gebied meesterlik beheer het, het
Feghonleigh Snyders ‘n hoë lugskop vanuit sy eie 50 m-gebied op Villa se heelagter, Elton Mfundisi, in hul 50 m-gebied afgestuur. Dit is deur Van Rensburg op meesterlike wyse in die lug gewen en vir Mikyle Hanse gevoer om in die hoek af te rond, vir ‘n voorsprong van 15-5.
In die 22ste minuut het Saldanha ‘n aanval vanuit Villa se halfgebied begin, met Van Rensburg wat met ‘n rugaangee vlymskerp deurgesny, ‘n rolskop uitgevoer en meesterlik onder die pale afgerond het. ‘n Doelskop deur die pale het tot die goeie voorsprong van 22-5 gelei.
Dinge het egter warm geraak vir Monray Jacobs en hy is vir 10 minute koelkamer toe gestuur. Darren Visser hom tydelik vervang, maar in Jacobs se afwesigheid het Villa vining teruggeslaan met ‘n drie, wat die telling na 22-12 laat krimp het – ‘n agterstand van 10 punte met rustyd.
Ná rustyd het Villa weer teruggeslaan, met Jacobs steeds in die koelkas. Villa het ‘n verdoelde en ‘n onverdoelde drie gedruk om die telling gelykop te maak – 22 elk.
Saldanha het egter kalm gebly en nie onder Villa se druk geswig nie, maar geleidelik die tempo gelig en punte behaal wanneer dit saak gemaak het. Goeie spel in die 22ste en die 34ste minuut het gelei tot die ysterman Abduragmaan Latief wat ‘n barshou gespeel het en Ambijorn Vraagom se drieë, beide verdoel deur Van Rensburg, wat die telling tot 36-22 in Saldanha se guns gebring het.
Saldanha het egter sy mees ervare speler verloor, Johan Louw is deur die TMO vir ongeoorloofde spel uitgewys en met ‘n rooikaart beboet – ses minute voor speeltyd verstreke. Die drie is deur die skeidsregter aan Villa toegeken, wat die agterstand tot 36-27 laat krimp het. Met vier minute speeltyd oor kry Saldanha ‘n strafskop en Van Rensberg maak seker sy poging gly sekuur tussen die pale deur vir 39-22.
Villa se taak was nou baie steil. Hy moes minstens 14 punte aanteken as hy die wedstryd wou wen – met net twee minute en bykomende speeltyd oor. Ongelukkig kon Villa nie die laaste paar minute Saldanha se verdediging knak nie en is deur ‘n beter span geklop.
Saldanha speel vandag in die eindronde teen Roses United nadat Roses vir Robertson Town in die ander halfeindronde met 30-25 geklop het.
Ambijorn Vraagom is as die Speler van die Wedstryd aangewys en Craig van Rensburg as die Sanlam Confident-speler.
◘ Ander puntemakers vir Saldanhabaai: Drieë: Virgil Stoffberg, Mikyle Hanse, Craig van Rensburg, Abduragmaan Latief, Ambijorn Vraagom. Doelskoppe: Craig van Rensburg. Strafdoel: Craig van Rensburg.







