Die wind is die eerste ding waaroor inkommers kla.
Gebore Weskussers en diegene wat dekades lank aan die Weskus bly, sal hulle dan skuinskop aankyk en rustig sê: “Raak gewoond daaraan, want Boeta as die wind gaan lê, dan bars ons van die hitte.”
Die tweede ding is die stadige diens. Wel, seker stadig vir dié wat ‘n stedelike rotresies ken.
As jy nié bereid is om ‘n tree agteruit en dieper asemteue te gee wanneer jy jou aftreehuisie op die kus kom bou nie, gaan jy erg gefrustreerd raak.
Gautengers, mense van Limpopo en Mpumalanga wil aan die Weskus kom aftree vir die “rustigheid”, maar verwag dan dat Weskussers en Weskus-ondernemings agteroor moet buig om by hulle gejaagde manier van doen aan te pas.
Mense met groot ego’s stap in en wil die Weskus kom “regruk” of met groot fanfare oorneem, sonder om te vra. Sonder om diegene in ag te neem wat al vir jare getrou dieselfde soort veldtogte reël, al bekend is vir suksesvolle bewusmaking in die gemeenskap.
Gee net daai tree terug en vra eers rond wie die mense is wat reeds besig is om met groot sukses op te tree. Soos Mfesane, Vital Connection en Team Langebaan, om maar ‘n paar te noem.
Die Weskuswiel kan beslis doen met van die kundigheid wat saam met die afgetredens kom.
Ons vra net, kom met respek binne. Ander het jou reeds voorgegaan.





