Die soektog na die 74-jarige inwoner van LongAcres, Hermie van Zyl, wat ‘n week gelede in die Tsitsikamma-woud naby Stormsrivier vermis geraak het, is afgelas. Sy lewelose liggaam is laat gistermiddag ontdek.

Van Zyl se familie het by monde van sy skoonsuster, Jerite van Zyl, aan Weslander gesê hulle is sien op die oomblik net nie kans om die media te woord te staan nie.
Volgens ‘n ingeligte bron word daar nie vuil spel vermoed nie, maar blyk dit dat Van Zyl dalk eerder weens ontbering gesterf het. Daar word vermoed dat hy verdwaal het en nie weer sy pad tussen die digte plantegroei kon terugkry na die paadjie nie.
Van Zyl het op Dinsdag 21 Oktober vermis geraak. Hy was saam met ‘n groep op pad na die Sleepkloof-hut en is van die groep saam met wie hy was, geskei, en hulle kon hom later nie weer opspoor nie.
Kouga Express, Weslander se susterskoerant in die Oos-Kaap, berig dat die Stormsrivier-polisie verlede week ‘n soek-en-reddingsoperasie van stapel gestuur het nadat Van Zyl (74) op 22 Oktober as vermis aangemeld is.
Volgens polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Majola Nkohli, het die soekgroep bestaan uit die polisie se soek-en-reddingsdienste en berede-afdeling, die veldwagters van SanParke en die MTO Tsitsikamma-staproete.
“Ons het ‘n omvattende soekpoging gemobiliseer wat verskeie gespesialiseerde eenhede betrek,” het Nkohli aan Kouga Express gesê.
Nkohli het bevestig dat Van Zyl se liggaam op Woensdag 29 Oktober deur die reddingspan in die bergvalleiwoud by die Stormsrivierkloof opgespoor is.
“Die liggaam is op 30 Oktober deur die militêre helikopter opgespoor en per helikopter vervoer. ‘n Geregtelike doodsondersoek is vir verdere ondersoek geopen,” sê Nkohli.
Die Stormsrivier-polisie ondersoek die saak verder.



You must be logged in to post a comment.