Rozaan de Wet Boer het haar jongste boek, “Is jy oraait, Elizabeth?”, verlede Woensdag (24 September) op ‘n spesiale vroueoggend by die NG Kerk Akkerdyk bekend gestel.

Die geleentheid was gevul met lag, gesels, trane, inspirasie en ‘n gevoel van same- horigheid.
Dit het die perfekte agtergrond geskep vir die bekendstelling van ‘n boek waarin vriendinne mekaar deur moeilike tye dra. Die storie bied nie net ‘n kykie na die krag van vriendskap nie, maar deel ook hoe die skrywer se gesin moes aanpas nadat hul seun, Rory, met Downsindroom gebore is.
Rozaan het haar kinderjare in die Bosveld deurgebring, waarna sy biblioteekkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer en haar honneursgraad by Unisa voltooi het.
Deur die jare het sy as dosent, verslaggewer en in verskeie vakbiblioteke gewerk.
Verskeie van haar kortverhale het reeds op LitNet en in tydskrifte verskyn en Lapa-uitgewers het Uit die hart van ‘n vrou in 2019 vrygestel.

In haar jongste boek kom dit duidelik na vore dat De Wet Boer ‘n liefde vir haar taal het. Haar ryk woordeskat is oorspronklik en haar woordgebruik is uniek. Sy skryf funksioneel en doelgerig. Taal is vir haar aantreklik en sy hou van ‘n goeie boek. Sy het ook ‘n groot liefde vir die natuur – dit inspireer en praat met haar.
Haar jongste boek bevat iets waarby elke leser aanklank kan vind – drie vriendinne met unieke uitdagings wys hoe hul sterk vriendskap mekaar dra.
Vir De Wet Boer is die rol wat vriendinne in mekaar se lewe speel, van onskatbare waarde. Sy het reeds op ‘n vroeë ouderdom beleef hoe haar ma ná ‘n vriendskapsreis as “nuwe mens” terug- gekeer het.
In die ander gedeelte van haar boek vertel sy haar storie en van haar gesin se uitdagings. Sy wil mense bewus maak oor die genetiese toestand Downsindroom. Sy sê hoewel die dobbelsteentjie dalk vir haar seun, Rory, verkeerd geval het, moet jy “let go and let live”. Dit beteken dat mense hul lewe moet lei soos hulle wil en dat “jy joune” moet leef sonder ander se oordeel.
“Jy moet dankbaar wees vir wat jy het. “By Rory leer ‘n mens waaroor die lewe werklik gaan. Hy herinner ander met sy hart vol omgee en ‘n opregte belangstelling in mense daaraan dat dit die eenvoudige dinge is wat saak maak. In ‘n wêreld waar die pas vinnig is, wys hy jou om stadiger te beweeg en meer in te neem.”
Rozaan wil graag deur haar veldtog hê mense moet kinders met Downsindroom soos ‘n normale kind hanteer.
“As jy verby ‘n kind met Downsindroom loop, groet of knoop ‘n geselsie aan. Hoewel kommunikasie vir hulle ‘n uitdaging is, moet ‘n mens net ‘n bietjie geduldiger wees. Downsindroom-kinders het hul eie persoonlikhede, talente en stokperdjies en kan net so goed tot die samelewing bydra. Hulle dra geen kwaad in hul nie en is baie liefdevol.”
Rozaan se teenwoordigheid trek en behou die gehoor se aandag. Sy herinner ‘n mens daaraan dat almal hul eie uitdagings het en dat almal kan kies om moedeloos te wees of die beste van ‘n saak te maak. Haar verhaal laat ‘n mens besef daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.
• Is jy oraait, Elizabeth? is beskikbaar by Bargain Books en uitgesoekte boekwinkels – ‘n moetlees-boek vir elke huis.





You must be logged in to post a comment.