Terwyl die rugbyseisoen tans sy laaste afskop met die Sanlam-Boland-Top-12- en Superliga-wedstryde – die laaste op die Bolandse rugbykalender – beleef, kry die krieketvelde van die Boland en Weskus weer lewe.
Dit is duidelik dat klubkrieket gereed is om die kollig oor te neem, met die spanne van Swartland en die Weskus in die Boland-krieketstreek wat reeds tekens van ‘n seisoen vol belofte begin toon.
Die Vredenburg-Saldanha-Krewe, wat verlede seisoen uitstekend in verskeie Boland- krieketunie-kompetisies vertoon het, begin hul veldtog in die T20-Gemeenskapbeker met ‘n dubbelprogram – Saterdag 4 Oktober teen Wellington en Sondag 5 Oktober teen Paarl-Oos op Krewe Park. Die span se kombinasie ervare spelers en jong talent skep die indruk van fokus en verwagting.
As verslaggewer het ek gesien hoe hierdie span groei – en die tekens is daar dat hulle hierdie seisoen nog hoër mik.
Die Krewe het Saterdag na Lambertsbaai gereis, waar hulle die tuisspan in sy agterplaas aangedurf en uitstekend gevaar het.
Vir die Swartlandspanne sal die Swartland T20-toernooi, wat Saterdag (27 September) plaasvind, as finale opwarming dien voor die amptelike begin van die Calypso T20-Liga aanstaande Saterdag (4 Oktober).
Hierdie toernooi is nie net ‘n sportbyeenkoms nie – dit is die inleiding tot opwindende krieket.
Op die T20-wedstrydkalender speel Piketberg, die verdedigende T20-kampioen, die gasheer vir Darling – die Boland Promosie Weskus se eendagkampioen. Essex van Clanwilliam ontvang Malmesbury tuis op die Clanwilliam-krieketveld, terwyl Hopefield Wanderers ‘n loslootjie het en die twee wedstryde met arendsoë sal volg. Albei wedstryde begin om 14:00, en die verwagting is dat die wilgerlatte behoorlik gaan sing.
Malmesbury het in sy vriendskaplike T20-wedstryd teen Moorreesburg reeds momentum opgebou. Krisnan Oostehuizen het die telbord met ‘n meesterlike 76* (nie uit nie) laat gloei.
Donovan Dudley het met 41 lopies ook sy stempel afgedruk. Gershwin Herrings het egter met die bal in die hand die aand se gesprek geword met vyf paaltjies en ‘n oorwinning van 71 lopies vir Malmesbury – ‘n duidelike teken dat dié span vir groter dinge gereed is.
Die tuisspan het sy krag op die Op die Darling-ovaal met oorwinnings teen Bishop Lavis en St. Helenabaai gewys. Twee wedstryde; twee seges – Darling se honger vir die nuwe seisoen is onmiskenbaar. Die energie op die veld was tasbaar en die selfvertroue het in elke aflewering en elke grenshou deurgeskemer.
In die Swartland en op die Weskus gaan dit nie net oor wie wen nie, maar oor wie opstaan, wie leer, en wie saam groei. En as jy mooi luister, hoor jy al die klanke van hout teen leer – ‘n seisoen wat aanstaltes maak.
Jy hoor ook stories van jong spelers wat hul name in Boland-krieket se geskiedenis wil aanteken en drome wat stadig maar seker vorm aanneem. Wanneer die son ná ‘n wedstryddag sak en die gras nog na aksie ruik, weet ons – die ware oorwinning lê in die gees van die spel, want in elke aflewering; elke vangskoot; elke juigroep van die kantlyn af; leef iets groter – ‘n passie wat dorp aan dorp verbind.
As hierdie seisoen nou die begin is, dan wag iets besonders gewis anderkant die grensdraad.





