Noluvu Ludidi
Die Langebaan-uitkykpunt, One with nature fisherman’s watch, kry ‘n nuwe baadjie, en dit danksy die samewerking van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) en private vennootskap.
Volgens Charmaine Laubscher, onderburgemeester van SBM, is dit as gevolg van verskeie e-posse van die publiek wat gemaan het dat daar omgesien moet word na die gebou by die uitkykpunt. Daarna het ‘n oproep tot aksie gevolg.
Laubscher sê rolspelers het saam- gespan om die uitkykpunt, wat ‘n brandpunt vir maatskaplike probleme geword het, te transformeer.
“Dit is ongelooflik belangrik vir ons om ‘n veilige en mooi dorp te hê. Ons is afhanklik van toerisme vir ekonomiese groei. Veiligheid in ons dorp hang daarvan af. As iets gebreek of onooglik is, moet dit reggemaak word, en as ‘n gemeenskap saam eienaarskap vat, dan weet ‘n mens dat jou gemeenskap saam bou aan veiligheid en groei, en opbou.
“Die projek het op Dinsdag 12 Augustus begin, in samewerking met Waldo Julies, die Langebaan- en Hopefield-gebiedsbestuurder van die departement van gemeenskap en operasionele dienste, en sy span, André Mostert van die SBM elektriese afdeling en sy span, Peter Jack van Indawo, Jon Amira van die Langebaan-gemeenskapspolisiëringsforum, Carel Pieterse van Printeq, Mervin Olivier van Mr Merve’s, en Mike Norman van Paintsmiths en nog ander. Die graffiti is van die mure afgehaal, daar is skoongemaak, krake reggemaak, geverf, nuwe borde opgesit asook kameras vir meer veiligheid.” Daar word beoog om die projek teen einde Oktober te voltooi.





