Brandweerhoof Ann Supra-Vertue.

Die brand-en-reddingpersoneel by die munisipale brandweerstasie langs die Saldanha-vliegveld gesels oor en weer; maak grappies.

Ann Supra-Vertue (middel) se kentekens met haar nuwe rang word aangesit deur Pumi Mbaliswana, direkteur: korporatiewe en openbare veiligheidsdienste, en André Truter, uitvoerende burgemeester. Foto’s: Alida Buckle

Die koms van die nuwe brandweerhoof, Ann Supra-Vertue (48), in Maart vanjaar is aanvanklik met vertwyfeling begroet, maar die verskil wat sy gemaak het, is reeds merkbaar. Sy is op 5 September amptelik as die Saldanhabaai-munisipaliteit se hoof van brand-en-reddingsdienste ingelyf.

Ann het haar loopbaan in 1997 by die Mosselbaai-munispaliteit as leerling-brandbestryder begin en later tot junior brandbestryder gevorder.

Ná 11 jaar het sy by PetroSA se raffinadery aangesluit, waar sy tot senior brandweerbeampte gevorder en waardevolle ervaring in nywerheidsbrandbestryding opgedoen het.

In 2015 is sy terug Mosselbaai-munisipaliteit toe as stasiebevelvoerder verantwoordelik vir optredes en opleiding. In Desember 2023 het sy die pos as assistent-direkteur by die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum aanvaar, met ‘n fokus op strategiese bestuur, en later die Saldanhabaai-pos oorgeneem.

Volgens Ann het die kombinasie van haar nywerheidservaring, bedryfsleiding en strategiese bestuur haar vir die nuwe rol voorberei. Sy beskou dit as ‘n geleentheid om haar kennis en leierskap op ‘n hoër vlak toe te pas. Haar visie is ‘n sterk, veerkragtige en vooruitstrewende brandweerdiens wat nie net reageer nie, maar proaktief werk aan risikovermindering en gemeenskapsbetrokkenheid.

Ann Supra-Vertue voor die munisipale brandweerstasie langs die Saldanha-vliegveld. Foto: Alida Buckle

Ann se kernprioriteite sluit in die herstrukturering van prosesse om reaksietye te verbeter, die hulpbronne volmaak te benut en tegnologie en opleiding te integreer. Sy beklemtoon gereelde nabootsings en opleiding sodat personeel vinnig en doeltreffend kan reageer. ‘n Belangrike fokus is geografiese ontleding van risikogebiede om voertuie en personeel strategies te ontplooi.

Sy beoog ook sterker gemeenskapsbetrokkenheid deur bewusmakingsprogramme, skole- en jeugprojekte en werksessies vir huishoudings en ondernemings.

Ann wil deur vennootskappe met organisasies en die media kritieke veiligheidsboodskappe wyd versprei. Daarbenewens wil sy ‘n platform skep waar inwoners bekommernisse en voorstelle kan deel en saam oplossings ontwikkel.

Die ontwikkeling van jong talent en die bevordering van diversiteit is vir haar belangrik. Sy glo aan die skep van ‘n werksomgewing wat op loopbaanontwikkeling, erkenning en spanmotivering fokus. ‘n Kultuur van waardering, oop kommunikasie en spanwerk staan sentraal in haar leierskapstyl. Sy stel die fisieke en emosionele welstand van personeel voorop deur programme vir gesondheid, fiksheid, trauma-ondersteuning en ontlontings.

Ann het reeds begin met die opgradering van toerusting en infrastruktuur en die gebruik van digitale voorval- en taakmoniteringstelsels. Hierdie stelsels verbeter verslagdoening, bied insig in voorvalpatrone en ondersteun risiko-ontleding. Die munisipaliteit ontwikkel ‘n digitale voorvalbeheerstelsel om koördinering verder te verbeter. Sy ondersoek tans die gebruik van hommeltuie vir brandopsporing en terreinassessering in moeilik bereikbare gebiede.

Sy wil ‘n kultuur van paraatheid en verantwoordelikheid vestig deur samewerking met skole, organisasies en die gemeenskap. Ann se langtermyndoelwitte sluit in die uitbreiding van die brandweerdiens na elke dorp in die munisipaliteit, die versterking van rampbestuur, en die bou van vertroue deur toeganklike dienslewering en gereelde betrokkenheid. Haar visie is om ‘n diens te vestig wat as voorbeeld vir ander munisipaliteite kan dien.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article