Die bossies groei al die geplaveide strate toe. Vensters is gebreek by die vervalle Elandsbaai-vissersmarkprojek. Foto: Lise Beyers

Hoewel die Cederberg-munisipaliteit die huidige stand van die eens florerende Elandsbaai-vismark “erken”, is dié verwaarloosde en gevandaliseerde projek ‘n seer oog by die ingang na dié gewilde kusdorpie langs die Verlorenvlei-riviermond.

Anthony Mlata, die munisipale woordvoerder, het benadruk dat die vismarkprojek deur aansienlike uitdagings in die gesig gestaar word.

Dié inisiatief van miljoene rande is al in 2013 van stapel gestuur as ‘n poging tot samewerking tussen die munisipaliteit en die departement van landbou, bosbou en visserye. Dit was daarop gemik om die plaaslike ekonomie te help groei.

“Ten spyte van aanvanklike vordering, het die projek tot stilstand gekom weens verskuiwende prioriteite en bestuursverskille, wat uiteindelik tot vandalisme en verwaarlosing gelei het,” het Mlata gesê.

Volgens hom prioritiseer die huidige administrasie wel gemeenskapsbetrokkenheid en herlewing.

Hy verwys na die geïntegreerde ontwikkelingsplanvergadering (GOP) van April 2023 waar ‘n visserskomitee gestig is om toesig oor die mark se benutting en

bestuur te hou.

“Die munisipaliteit het ook skoonmaak-, instandhoudings- en opknappingspogings begin.”

Volgens Mlata verseker wetstoepassingsagentskappe verhoogde sigbaarheid.

Gerrit Matthyse, munisipale bestuurder, het volgens Mlata al met belanghebbendes vergader om gemeenskapseienaarskap en openbare batebestuur te bespreek.

“Die munisipaliteit ondersoek opsies vir die toekoms van die vismark, insluitend ‘n oproep vir voorstelle van belangstellende partye om die fasiliteit te laat herleef en te bestuur. Dit is daarop gemik om die mark se potensiaal te ontsluit en tot die plaaslike ekonomie by te dra.”

Mlata het verder gesê die munisipaliteit bly daartoe verbind om met die gemeenskap en belanghebbendes saam te werk om ‘n lewensvatbare oplossing vir die Elandsbaai-vismark te vind. “Ons is daartoe verbind om hierdie waardevolle bate te herstel en te verseker dat dit die plaaslike gemeenskap bevoordeel.”

Peter Plaaitjies, die nasionale woordvoerder vir die Services to Our People’s Party (STOPP), het vroeër vanjaar ook die “vismarkskandaal” in ‘n mediaverklaring aangeroer. Daarin bepleit hy die optrede van die betrokke rolspelers om ‘n “algehele ineenstorting” van die projek te voorkom. “Wat veronderstel was om ‘n florerende spilpunt vir kleinskaalse vissers te wees, staan vandag as ‘n gevandaliseerde, ongebruikte struktuur. Die fasiliteit is nooit in gebruik geneem nie.”

Peters beklemtoon die feit dat die projek, soos dit nou daar uitsien, egter geen werkgeleenthede, geen waardeketting, geen voordeel vir die mense wat dit veronderstel was om te dien, lewer nie. “In plaas daarvan het dit ‘n simbool van vermorsing, verwaarlosing en oneerlikheid geword.”

Hy meen dit is nie net swak beplanning nie, maar die direkte gevolg van ‘n nasionale visserybeleid wat Suid-Afrika se kusgemeenskappe om elke draai in die steek laat. Hy verwys na prof. Moenieba Isaacs van die Universiteit van Wes-Kaapland wat vroeër vanjaar aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê het kleinskaalse vissers voel steeds gemarginaliseer, opsy gestoot en ondermyn deur disfunksionele koöperasies.

Deur die jare is verskeie beloftes aan hulle gemaak, maar die visvangsektor “bly afgesluit” vir bestaansvissers.

“Die vissersgesinne van die Weskus wil nie aalmoese hê nie. Hulle wil werkende hawens, funksionele infrastruktuur, billike toegang tot marienehulpbronne en die reg om te oorleef hê, in die bedryf wat hul vaders en oupas gebou het,” het Peters gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article