Stefan Kolver, Weslander se uitgewer, staan trots by Madelie van Tonder, advertensieverteenwoordiger, en Alida Buckle, redakteur, met hulle toekennings. Foto: Rasaad Adams
Stefan Kolver, Weslander se uitgewer, staan trots by Madelie van Tonder, advertensieverteenwoordiger, en Alida Buckle, redakteur, met hulle toekennings. Foto: Rasaad Adams

Novus Media, Weslander en WeskusNuus (Atlantis) se beherende maatskappy, se eerste toekenningsgeleentheid is op Donderdag 31 Julie virtueel gehou.

Weslander se span het saam met ander titels uit die Boland-streek by die Distrikspos se kantore in Somerset-Wes bymekaar gekom.

Alida Buckle, redakteur, is aangewys as die Bolandstreek se wenner in die Harde Nuus en In-diepte Artikel-afdelings. Sy is ook uit 21 koerante in die Novus Media-groep, wat koerante tot in die Noord- en Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap insluit, aangewys as vanjaar se landwye Joernalis van die Jaar. Sy het ook die landwye afdeling vir harde-nuus-verslaggewing gewen.

Madelie van Tonder, advertensieverteenwoordiger, het die streeks- en landwye toekenning gekry vir haar harde werk om nuwe kliënte te werf.

Madelie is al 25 jaar ‘n advertensieverteenwoordiger by Weskus Media en kan haar nie op enige ander plek indink nie. “Ek is baie dankbaar vir die erkenning. Dit is ‘n groot prestasie gesien in die lig daarvan dat mense geneig is om te dink dat die gedrukte media besig is om uit te sterf. Dit is verblydend om te sien dat daar steeds nuwe besigheid inkom. Mense vat nog ‘n kans met koerantadvertensies en dan bly hulle gewoonlik daarby.”

Die digitale era bied nuwe uitdagings sowel as geleenthede, en dit is ‘n pad wat sy van plan is om met toewyding saam met ou én nuwe kliënte te stap.

Vir Alida is die toekennings voorwaar ‘n eer en voorreg. “Ek glo as joernalis moet dit nooit oor jouself gaan nie, maar om ‘n diens te lewer aan die gemeenskap en mense wat oor jou pad kom. ‘n Joernalis is maar baie soos ‘n pastoor of ‘n dominee, jy doen dit vir ‘die saak’ … nie vir erkenning of om jou naam op die voorblad te sien nie.”

Alida Buckle en Stefan Kolver met haar nasionale sertifkate vir Joernalis van die Jaar en harde-nuus-verslaggewing. Foto: Rasaad Adams

“Ek het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk sonder wie ek nie my werk met sy lang ure en veeleisende spertye kon doen nie. Ek bedank elke liewe persoon wat my daagliks moed inpraat en met WhatsApps op net die regte oomblikke deurdra. Veral my gesin – my man Louis, my seun Marcus en my dogter Blaze. Julle is die gom wat my wêreld aan mekaar hou.

“Die Here weet hoe baie ek seën vra oor die werk wat ons by Weslander en WeskusNuus doen. Dit bly maar moeilik om onaangename berigte te skryf oor mense wat jy ken, maar dit moet ongelukkig ook gedoen word. Ek sal aanhou om my bes te doen. Vir Weslander, WeskusNuus en die Weskus.

“Ek is ‘n gebore joernalis en skryf al van kleins af. Dit is my passie.”

Die Weskus Media se span is (van links) Alida Buckle, redakteur, Linda Luyt, ontvangsdame en geklassifiseerde advertensies, Noluvu “Lulu” Ludidi, Weslander-joernalis, en advertensieverteenwoordigers Madelie van Tonder en Yvette Smith. Agter staan Stefan Kolver, uitgewer, en Murphy Roberts, WeskusNuus-joernalis. Die tema was “Sparkle” en die Weskus Media-span het behoorlik uitgeblink. Foto: Rasaad Adams

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article