Rhime Louis Laubscher, nuwe wyksraadlid vir Wyk 6 in die Bergrivier-munisipaliteit.

Die nuwe wykraadslid vir Wyk 6 (Noordhoek, Dwarskersbos en Aurora) in die Bergrivier-munisipaliteit is eergister (Dinsdag 29 Julie) ingehuldig.

Raadslid Rhime Laubscher is amptelik op ‘n raadsvergadering beëdig nadat hy die onlangse tussenverkiesing gewen het.

Talle inwoners het verlede week tussen Dinsdag 22 en Woensdag 23 Julie hul kruisie in die tussenverkiesing getrek.

Die stemlokale was by die Aurora- en Noordhoek-gemeenskapsale en die Dwarskersbos-woonwapark.

Met ‘n persentasie van 44,84 het Laubscher van die Demokratiese Alliansie (DA) die wyk oorgeneem as wykraadslid.

Ander kandidate wat meegeding het was (in alfabetiese orde van vanne): Reginald Heinrich Daniel Carolus (38) van die Patriotic Alliance (PA), Felicia Dianne Lottering vir die African National Congress (ANC) en Bahle Sikhuni vir die Economic Freedom Fighters (EFF).

Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) was die opkoms vir die tussenverkiesing 62,65% in vergelyking met die 2021 LGE-kieseropkoms van 56,91%.

Michael Hendrickse, die OVK se provinsiale kiesbeampte, bedank al die geregistreerde kiesers wat gestem het en spreek ook ‘n woord van waardering uit teenoor al die verkiesingspersoneel en lede van wetstoepassing.

‘n Herinnering is aan inwoners gerig dat Suid-Afrikaanse burgers wat nie geregistreer is nie of wat moet herregistreer weens ‘n adresverandering, dit ook op die amptelike OVK-webwerf kan doen by elections.org.za.

Volgens Laubscher het die verkiesing goed verloop, soos beplan, en het hulle al hul doelstellings bereik.

“Die sege maak vir my as mens die deur oop om die gemeenskap te kan dien soos wat ek plegtig onder eed sal beloof, wanneer ek as die wykraadslid ingesweer word.

“My boodskap aan die gemeenskap is dat ons hande moet neem en saam moet werk om na die belange van die gemeenskap om te sien.

“Op my eie sal dit nie moontlik wees nie, maar met ondersteuning van gemeenskapslede kan ons ‘n beter leefbare omgewing skep waarin ons kan floreer.”

Laubscher wil begin deur ‘n goeie kommunikasiekanaal te vestig om sy verhouding met die gemeenskap op te bou.

“Juis omdat gemeenskapsdeelname ‘n baie groot rol in die plaaslike regering speel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article