Houston Collair in aksie op die rugbyveld.

Sy skitterende vertoning by die Hoërskool Vanrhynsdorp-rugbytoernooi het Houston Collair die geleentheid gebied om deel te wees van die o.15-rugbyspan wat in Engeland en Wallis gaan speel. Die geleentheid word aangebied deur Travel and Sport en vind tussen Woensdag 3 en Vrydag 12 Desember plaas.

Om hierdie droom ‘n werklikheid te maak, het die jong inwoner van Clanwilliam R55 990 nodig, wat onder meer sy vervoer, visum en vliegkaartjies moet dek. Volgens Houston is hy baie opgewonde. Hoewel hy nie ‘n liefhebber van die sport was nie, maar homself meer as ‘n boekwurm beskou het, het Houston mettertyd ‘n liefde vir rugby ontwikkel. Met hierdie geleentheid hoop Houston dit sal vir hom baie deure oopmaak.

“Ek is dankbaar vir die talent wat ek het. Dit gee my ook die kans om die stres van skool op die rugbyveld uit te sweet,” meen Houston. Wat vir hom sover hoogtepunte is, is dat hy as onderkaptein vir die o.15-rugbyspan van sy skool, Augsburg Landbougimnasium, gekies is. Selfs in die wedstryd wat bepaal het of hy die span wat Engeland toe gaan, sou haal, het sy span met 11 spelers gespeel, steeds gewen en is hy as speler van die wedstryd aangewys.

Dit sal Houston se eerste keer oorsee wees en hy sien baie daarna uit om meer van ander spelers te leer. Sy ma, Leandre Collair, sê haar seun maak haar altyd trots. “Ek het nooit gedink hy sou so ‘n geleentheid kry nie, hoewel hy al gekies is om in Johannesburg skaak te speel, maar weens die koste nie kon gaan nie. Die geleentheid om oorsee te gaan rugby speel, maak ‘n moederhart baie trots,” voeg sy by. Paaiemente van R9 000 moet op Maandag 30 Junie, Donderdag 31 Julie, Saterdag 30 Augustus en Dinsdag 30 September betaal word. As jy ‘n bydrae wil maak, bel Leandre by 079 557 1369.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article