Eco Sport se wenspan bestaan uit (van links) Jaco Visagie, Jané Visagie, Esta Visagie, Juan-Maré Visagie en Izak Dreyer. Heelregs staan klubvoorsitter Herman van Lill.

Alida Buckle

Die wenner van die Lagoon-rolbalklub in Langebaan se opwindende wintersakeliga was vanjaar die gedugte span van Eco Sport.

Dié span het in die eindstryd Woensdag (21 Mei) sy fyn konsentrasie gewys – en dat hy die beste daarmee is om die balle bestendig tot by die wit bal te laat rol. Eco Sport het 23 ander plaaslike ondernemings se spanne uitoorlê om die titel te verower.

Dié sake-rolballiga bring ondernemings en gemeenskapslede vir sowat sewe weke bymekaar om hul vaardighede en kameraadskap op die setperke ten toon te stel.

Verskeie spanne het al hul moses aan die begin van ‘n liga teëgekom omdat rolbal onderskat word vir die vernuf wat daarmee gepaard gaan.

Hoewel die spanne nogal soms vriendelik mededingend kan wees, is dit ook ‘n geleentheid vir netwerkvorming.

Eco Sport is met die sake-rolballiga-wisseltrofee bekroon. Headline Blinds het tweede geëindig met

PJ Toilets in die derde plek.

Herman van Lill, klubvoorsitter, het sy dank uitgespreek teenoor alle deelnemende spanne, borge en vrywilligers wat tot die sukses van die liga bydra.

Die geleentheid is afgesluit met ‘n feestelike byeenkoms by die klubhuis, waar deelnemers teruggekyk het oor weke van onvergeetlike oomblikke – soos daai een bal wat daai een aand styf langs die wit bal gaan lê en die “kop” vir die span gewen het . . .

Almal sien reeds uit na die somersakeliga wat in die laaste kwartaal van die jaar plaasvind. Kontak Van Lill by 083 652 1712 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article