Die span van Octodive by die Bergrivier besig met tegniese beplanning om ‘n gesinkte boot te verwyder. Foto’s: Letitia Van Zyl-Schultz

Die onlangse verwydering van gesinkte bote uit die Bergrivier by Velddrif het weer die aandag gevestig op die streng proses wat gevolg moet word wanneer vaartuie uit ‘n rivier verwyder word.

Die Bergrivier is gewild vir uitstekende hengel en wateraktiwiteite terwyl die omliggende vleilande ‘n paradys vir voëlkykers is. Maar waar die oog nie kan sien nie, lê verlate en gesinkte bote diep onder die wateroppervlak.

Robin Clayton, ‘n klein vaartuig-landmeter van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) tree as konsultant vir die Bergrivier-munisipaliteit (BM) op. Hy het bevestig dat 12 gesinkte bote in die Bergrivier geïdentifiseer is, waarvan nege sedert Mei verlede jaar verwyder is.

Weslander het Clayton op 17 Februarie tydens ‘n verwyderingsaksie by die rivier ontmoet. Volgens hom bly elke operasie ‘n uitdaging. “Niemand weet ooit presies hoe diep ‘n boot vassit nie. Sommige van hierdie bote lê al langer as sewe jaar onderwater.”

Volgens maritieme riglyne is die verwydering van ‘n gesinkte boot ‘n tegniese en wetlik gereguleerde proses wat in verskeie fases plaasvind om veiligheid en omgewingsbeskerming te verseker.

Tydens die aksie was die span van Octodive in die rivier besig om ‘n opblaasbare lugkussing onder ‘n gesinkte boot in te werk om dit weer drywend te maak. Clayton het verduidelik dat die eerste stap altyd is om die eienaar van die vaartuig te identifiseer. Indien die eienaar opgespoor kan word, word ‘n formele kennisgewing uitgereik waarin hy of sy versoek word om die boot binne ‘n bepaalde tydperk te verwyder. Indien geen eienaar opgespoor kan word nie, kan die betrokke owerhede self optree.

Voordat enige berging begin, word ‘n omgewingsassessering gedoen om te bepaal of brandstof, olie, batterye of ander gevaarlike materiale aan boord is wat moontlik die water kan besoedel.

Indien dit ‘n gevaar inhou, word maatreëls ingestel, soos die plasing van dryfskerms om olieverspreiding te beperk en gevaarlike stowwe veilig te verwyder. Daarna stel ‘n professionele bergingsmaatskappy ‘n tegniese plan op. Faktore soos die grootte van die boot, die diepte van die water, toegang tot die rivier en selfs getye vervul ‘n rol in die metode wat gebruik word.

Opblaasbare lugkussings word onder die boot ingedruk en opgeblaas. Soms moet water eers uit die romp gepomp word. Sodra die boot stabiliseer, word dit versigtig opgelig en na die wal gesleep. Die proses kan ure of selfs dae neem, afhangend van die ingewikkeldheid van die herwinning asook die getye.

Indien ‘n boot nie herstelbaar is nie, word dit volgens omgewingsregulasies gesloop. Die gebied word daarna skoongemaak en gemonitor om te verseker geen puin of besoedeling bly agter nie. Gesinkte bote hou ‘n gevaar in vir ander vaartuie, die ekostelsel en plaaslike toerisme.

Octodive werk saam met CapeNature, die Bergrivier-munisipaliteit en Samsa.

Robin Clayton verduidelik die proses hoe om gesinkte bote uit die rivier te verwyder.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article