“Moet nooit enigiets of iemand as vanselfsprekend aanvaar nie. Koester elke oomblik saam met jou kinders . . . Donderdag het ons nog beplan wat om die naweek te doen; nou moet ons planne maak oor watter begrafnisondernemer om te gebruik.”
Só skryf Johann Rabie, die pa van ’n tweejarige seuntjie van Malmesbury, wat Vrydag (8 Desember) in ’n swembad op ’n plaas naby Tulbagh verdrink het. Die blou-oog Christiaan Rabie (2) het die dag ongesiens in die swembad beland, waarna hy na die hospitaal in Tulbagh, sowat 5 km verder, gehaas is. Pogings om hom by te bring, was egter onsuksesvol.
Dit is belangrik vir Christiaan se ouers, Johann en Elzahn, dat ander ouers van kleuters uit die traumatiese gebeure moet leer en weet so iets gebeur blitsvinnig.
“Dit is nie ’n kwessie dat hy sonder toesig was nie. Dit was letterlik binne ’n minuut. Hy was ook nie eens ’n minuut lank in die water nie.”
Die gesin bedank die Malmesbury-gemeenskap vir die onderskraging en boodskappe die afgelope week.. ’n Roudiens word môre (Vrydag 15 Desember) om 11:00 in die NGK Swartland-Noord in Malmesbury gehou.




