Johnwin Barends wys hakskene vir sy teenstaanders in die seuns o.16 800 m-wedloop in 1 minuut en 41 sekondes. Foto: David Rossouw


WP Atletiek het Saterdag (27 Maart) sy derde suksesvolle kampioenskap-atletiekbyeenkoms die seisoen op die Parow-atletiekbaan vir junior en senior atlete gehou.

WP is weens die Covid-19-regulasies genoodsaak om atletiekbyeenkomste aan te pas en net 250 atlete mag op die baan toegelaat word.

Shafiek Jefferies, die veld- en baan-bestuurder, het opgewonde aan Weskus Nuus gesê atletiek het van die eerste byeenkoms af met inskrywings van meer as 300 atlete tot 600 gegroei en Saterdag was die hoogtepunt van alle byeenkomste.

Aangesien slegs 250 atlete en amptenare op die baan toegelaat is, moes atlete onmiddellik die baan verlaat nadat hulle hul items voltooi het om plek te maak sodat die volgende atlete aan hul items kon deelneem.

Twee junior atlete, Renaldo Pearce en Johnwin Barends, wat onder die vaandel van Melkbos-atletiekklub deelneem, het in die middelafstande vir juniors baie goed in die o.16-groep gevaar.

Renaldo het die lint in die 3000 m in ’n tyd van 9 min. 23 sek. gebreek, terwyl Johnwin die 800 m ook gemaklik in 1 minuut en 41 sekondes gewen het.

Die drie byeenkomste het as proewe vir die die WP-span vir juniors en seniors gedien.

Volgens Jefferies word Atletiek SA se kampioenskap vir juniors blykbaar ná die Paasnaweek in die Paarl beslis, waarna die senior kampioenskap twee weke later volg.

Johnwin het die 1500 m met ’n sterk wind van voor in 4 min. 23 sek. kafgedraf, met Renaldo in die derde plek.

Volgens Karen Brown, dié twee se afrigter, is sy baie tevrede met hul vertonings in die o.16-afdeling tot dusver hierdie seisoen.

Renaldo, wat in die 3 000 m spesialiseer, en Johnwin, wat op die 1 500 m fokus, het by beide byeenkomste ook aan korter afstande deelgeneem om hul spoed te verbeter. “Dit het goeie vrugte afgewerp,” het Brown gesê.

Die WP-spanne vir juniors en seniors word volgende week aangekondig, en as Saterdag se vertonings in aanmerking geneem word, behoort die twee plaaslike atlete se name uitgelees te word.

“Ons het al nuwe voorsorgsmaatreëls vir die ASA-kampioenskap getref, en dit hang nou net af wat die regering se nuwe regulasies gaan wees, maar ons sal by die omstandighede aanpas,” het Jefferies gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article