Hartroerende verhale oor verkragting en mishandeling is gedurende ’n inligting- en motiveringsessie deur Girls Leading Change met die gemeenskap van Mamre gedeel.
Vir die eerste keer het die slagoffers van Mamre na vore gekom en ook hul ervarings gedeel.
Deur die verhale was dit duidelik dat jong meisies op ’n baie jong ouderdom reeds kwesbaar is en het nie altyd die nodige beskerming teen die euwels van die gemeenskap nie.
Trane het gevloei. Die feit dat jy vir die res van jou lewe ’n letsel saam met jou dra wat veroorsaak is deur ’n bekende persoon, sal altyd deel van jou lewe wees, het sprekers van Girls Leading Change gesê.
Seksuele misbruik kom in baie vorme voor en baie vroue is te bang om dit aan te meld oor vrees nadat hulle gedreig is. Slagoffers is ook bang hulle word deur die gemeenskap uitgeken as iemand wat verkrag is en daarom bly meeste van hulle stil.
Praktiese wenke sluit in:. Sê wanneer iemand jou ongemaklik laat voel.. Mans en seuns moet geleer word om nie aan ’n vrou te vat sonder haar toestemming nie.. Enige vorm van geslagsgeweld of seksuele misbruik moet onmiddellik aan die polisie, die Thuthuzela-sentrum by die hospitaal of aan iemand wat jy kan vertrou gerapporteer word.. Vrou word aangeraai om nie alleen rond te loop nie.. Vroue en kinders word aangemoedig om vertroud te raak met die nuwe wetsontwerp wat hulle teen oortreders, wat ’n misdaad teenoor hulle pleeg, beskerm.
Die organiseerders het dit duidelik gemaak om ’n slagoffer van verkragting te wees, is nie ’n misdaad nie en om deur lede van die gemeenskap veroordeel te word, vererger die trauma vir die slagoffer.
Janine Passenz, organiseerder van die byeenkoms en aktivis vir vroueregte, het almal wat hul stories gedeel het bedank.
Sy het ook Girls Leading Change geprys dat hulle ook hul ervarings met Mamre kom deel het, en het gesê: “Julle almal is ons helde”.
Vir nog inligting oor die organisasie, besoek hul webtuiste by www.girlsleadingchange.com of stuur ’n e-pos aan info@girlsleadingchange.com, jy kan hulle ook kontak om motiverings-en opvoedkundigeprogramme aan te bied.





