Beverley Mohalie, Denise se skoonsuster, troos die hartseer Deronice Baadjies, Denise se dogter.Foto: Murphy Roberts


Sy het haar hande in die lug gegooi en gebid die skietery moet stop, maar toe word Denise Baadjies (60) koelbloedig voor haar neef op Nuwejaarsaand in Sherwood Park doodgeskiet.

Geskokte familie en vriende kon nie glo die vredeliewende ouma is so wreed van hulle weggeruk nie en vra steeds hoekom. Volgens Denise se neef Denvil Petersen, wat skuins oorkant haar in Sherwoodpark woon, het twee “skollies” die aand by sy huis aangekom. “Ek het die een herken as een van my seun se moordenaars,” vertel hy. “My seun is net meer as ’n jaar gelede doodgeskiet en sedertdien treiter die moordenaars my familie. Ek het die gemorste uit my jaart gejaag terwyl hulle gedreig het hulle gaan my familie ‘vrek skiet’. Ek het hulle pad-af gejaag, en in die volgende pad het nog drie gewag. Hulle het vier skote op my geskiet, maar gemis,” het hy vertel.

Denise se buurvrou, Marchelle van Niekerk, sê hulle het heeldag saam gekuier. Denise het die aand besluit om sigarette in die volgende pad te gaan koop toe sy op die drama met haar neef afkom.

Volgens Petersen het sy niggie reg voor hom ingestap. “Sy het haar hande in die lug gehou sodat die skietery moet ophou toe die gemorste losbrand en Denise steeds met haar hande in die lug dood neerval,” sê Petersen. Hy meen die koeëls was vir hom bedoel, want die skieters het glo geskree hulle gaan hom nog skiet, maar die mans het egter glo die hasepad gekies. Petersen sê die verdagtes het probeer terugkeer “om die job te finish”, maar daar was te veel mense op die toneel.

Deronice Baadjies, dogter van die oorledene, vertel hartseer haar ma het dit gewis nie verdien nie.

“Sy het net omgegee vir mense en was ’n regte mensemens wat gedurig die jongspan aangemoedig het om iets van hul lewens te maak,” vertel sy.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is twee mans van onderskeidelik 16 en 36 jaar op aanklag van moord aangekeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article