Die 25-jarige verdagte wat glo ’n vrou met ’n byl aangeval het, is verlede Donderdag (16 September) op borgtog van R3 000 vrygelaat en mag nie staatsgetuies kontak nie.
Die verdagte moet hom ook in Willowmore gaan vestig totdat die hofsaak afgehandel is en hy moet hom ingevolge sy borgvoorwaardes Maandae tussen 06:00 en 18:00 by die Willowmore-polisiekantoor aanmeld.
Janine Passenz van die Survivors Haven Foundation sê sy het kort voor die hofsaak begin het ’n petisie en ook foto’s aan die aanklaer as bewysstukke gewys. Passenz verduidelik die borgaansoek het baie drama opgelewer nadat die staat skielik borgtog toegestaan het.
Die ondersoekbeampte het glo gesê daar was geen sigbare wonde aan die slagoffer ná die voorval nie.
Volgens Passenz het die verdagte se regsverteenwoordiger ook gal gebraak en gesê die stigting soek sensasie uit die gebeure.
Sy hou egter vol dit is nie die geval nie. “Dit het nooit oor sensasie gegaan nie, maar bloot oor die meriete van die saak. Hoe kan die ondersoek-beampte aandui die slagoffer het geen sigbare beserings gehad as hy haar nooit gesien het nie?” wou Passenz weet.
Passenz sê die hof het egter van deuntjie verander nadat hulle die beserings aan die slagoffer gesien het. Die slagoffer (45), ’n vrou wat nie identifiseer wil word nie, vertel die verdagte het haar met ’n byl gekap “soos een wat hout kap”. Die slagoffer het aan Weskus Nuus gesê sy het Woensdagaand (25 Augustus) gelê toe sy voor 22:00 hoor haar hek word oopgeruk en sy het sekondes later glas hoor breek. “Ek het angsbevange opgespring vir skuiling, maar my voormalige loseerder het voor my met ’n byl in die hand gestaan en met sy pieringgroot oë sonder enige woord in my rigting begin kap,” vertel sy.
Die slagoffer sê sy het probeer om die man te kalmeer, maar hy het haar met die byl aangeval.
Volgens die slagoffer het die man amper haar been morsaf gekap toe hulle gestoei en sy geval het.
Sy sê haar aanvaller en sy vriendin het sowat ’n jaar in haar agterplaas gewoon, maar het sedertdien getrek.
Die verdagte verskyn weer op 12 November in die hof.





