Nie net het familielede van slagof­fers, maar ook slagoffers van ’n vermeende reeksverkragter Donderdag 30 Julie voor die plaaslike landdroshof betoog toe die verdagte in die hof verskyn het.

Slagoffers van die vermeende verkragter vertel hulle is gereed om die wêreld vierkantig in die oë te kyk en wil ook hul nare ondervinding deel sodat “siek perverts” aan die pen gery kan word.

“Wat met ons gebeur het, kon met enigeen se kind, ma of familielid gebeur het,” het een van die slagoffers aan Weskus Nuus gesê.

Die 46-jarige rugbyafrigter het hom­self as ’n dokter, fotograaf, modelagent, fiksheidsinstrukteur en lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen. Die man is op 25 Maart by die werk aangekeer waar daar ook op sy persoonlike rekenaar en werkrekenaar beslag gelê is. Hy verskyn tans in die hof op klagte wat verband hou met statutêre verkrag­ting, verkragting en verspreiding van kinderpornografie. Hy is op 14 April ’n borgtog van R10 000 toegestaan en is streng borgtogvoorwaardes opgelê, een daarvan is dat hy elke dag by die Atlantis-polisiekantoor moet aanmeld.

Volgens een van die slagoffers is die verdagte reeds sedert 2017 besig met sy streke en vrees sy dat nog baie klaers vorendag gaan kom. Die slagoffer vertel die verdagte speel ’n siek speletjie met sy slagoffers en van die misdade het by sy werkplek plaasgevind.

Weskus Nuus het in April berig dat die man se eerste slagoffer ’n 15-jarige meisie was wat hy gehelp om fiks te bly. Hy het haar droom om ’n model te word tot sy voordeel gebruik. Die ver­dagte het hom as ’n modelagent voorge­doen wat opdrag aan die meisie gegee het om foto’s van haarself te neem. Sy moes ook daarna naakfoto’s neem wat deur die verdagte geneem is en alles het by sy werkplek plaas­gevind.

Desperaat om naam te maak as model het sy alles gedoen wat die “agent” gevra het. Die “agent” het daarna ook glo voorgestel dat sy moet bewys dat sy volwasse genoeg is deur seks met die fotograaf te hê. Die slagoffer het egter na ’n tyd emosioneel ineengestort en wou selfdood pleeg. Dit is toe dat sy met die sak patats vorendag gekom het.

Sy volgende slagoffer was ’n getroude kollega by die werk. Hy het hom blykbaar as ’n dokter voorgedoen. Die vrou moes volgens ’n opdrag van die dokter kyk of daar iets by die verdagte se penis uitkom terwyl hy onbewus­telik glo ’n foto geneem het. Die sogenaamde dokter het daarna nog eise aan haar gestel en die foto’s gebruik om haar glo af te pers. Volgens inligting het die verdagte gesê hy gaan die foto’s aan haar man wys as sy nie seks met hom gaan hê nie. Die “dokter” het daarna ook die seksvideo gebruik om die vrou af te pers sodat sy glo haar minderjarige dogter aan hom moes uitlewer vir seksuele video’s en naakfoto’s. Die vrou het egter ontdek dat die “dokter” en haar kollega dieself­de persoon is. Hy het hom aan een van sy slagoffers as ’n lesbiese vrou voorgedoen en naakfoto’s aan die vrou gestuur en gevra dat sy dieselfde moet doen. Die saak word tans deur die polisie se kubermisdaad-eenheid ondersoek. Die saak is tot 30 September vir verdere ondersoek uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article