Aanstellings vir seksuele gunsies het vermoedelik nou in die gesig van nog ’n senior amptenaar by Atlantis-hof ontplof en klagtes van verkragting word ondersoek.
Die saak word deur die Paarlse eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe teen ’n plaaslike hofamptenaar ondersoek.
Die nuwe klagtes volg nadat ’n waarnemende senior hofbeampte, wat deur gemeenskaplede as ’n “sekspes” beskryf word, vroeër verwyder is.
Volgens ’n betroubare bron het die jongste geval by die Malmesbury-hof sy kop begin uitsteek waar beide die slagoffer en verdagte ook vantevore saam gewerk het.
Die bron verklap die senior amptenaar is na bewering onmiddellik geskors hangende ’n ondersoek.
Volgens kapt. F.C van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die slagoffer in die jongste geval Maandag 16 Mei ’n klag by die Milnerton-polisie aangemeld. Van Wyk sê die klaer sê die verkragting en seksuele aanranding het oor ’n tydperk plaasgevind. Die klaer en die verdagte het tot voor sy skorsing saam by die Atlantis-landdroshof gewerk.
Inwoners van Atlantis het verlede November buite die plaaslike hof betoog nadat die Departement van Justisie ’n waarnemende senior hofbeampte na wie vroeër verwys is en wat ook van seksuele misdrywe beskuldig word, “hier kom dump het”.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-stigting, wat slagoffers van verkragting en geslagsgeweld ondersteun, is sy stomgeslaan oor die jongste verwikkeling. “Ons was opgewonde oor die nuus dat die een verdagte verwyder word, en nou dít!
“Atlantis het ’n lang geskiedenis van verkragting en ander seksuele oortredings, en ek dink wie ook al die man hier kom dump het, dink niks van ons gemeenskap nie. Dis hoekom ons opgestaan het,” vertel sy.
Passenz het behoorlik gal gebraak oor die jongste skandaal en vra kwaad of die Atlantis-hof ’n bordeel is. “Die mense is veronderstel om ons te beskerm – nie om ons te bevoel of te verkrag nie,” kla sy.
Die Atlantis-hof is reeds geruime tyd onder die vergrootglas. Verskeie onlangse klagtes teen hofbeamptes sluit in ’n voormalige senior aanklaer, wat met pornografie betrap en skuldig bevind is. Nog ander strafregtelike oortredings, wat by die Atlantis-hof ondersoek word, is ’n hofbeampte wat verhoor word weens die vermeende diefstal van “papgeld” wat verdwyn het (dié saak is tans in die hof), bandopnames wat verdwyn het asook ’n senior amptenaar wat weens die besit van dwelms aangekeer is.
Weskus Nuus se bron het verklap ’n senior amptenaar het die Atlantis-hof Woensdag besoek om personeel oor die jongste gebeure in te lig. Die bron sê opdrag is gegee dat die amptenaar teen wie die jongste klagte gebring is, glad nie die hofgebou mag binnekom nie, en sou hy dit waag, moet die polisie onmiddellik ontbied word.





