Danny Piertersen van die Atlantis-Rotariër-klub ontvang die prys vir die beste skool-tuinbouvoedingskema by Pam Rawbone (AG) vir die Rotary Distrik 9350, waaronder Atlantis val.Foto: David Rossouw


Die Rotariër-klub van Atlantis het vir die derde jaar ’n prys as die beste primêre tuinbouvoedingskemaprojek vir dienslewering in die gemeenskap van Rotariërs ontvang.

Dié klub het in sy eerste jaar die prys vir Covid-19-dienslewering ontvang. Danny Pietersen en Wilbur Kastoor, onderskeidelik president van die Rotariër- en Rotaract-klubs, het die hoogste toekenning vir ’n individu –Die Paul Harris Fellow-prys –ontvang vir bydraes wat hulle tot die internasionale Rotariër-stigting in hul tweede jaar gelewer het.

’n Derde toekenning is onlangs vir die beste primêre skool se tuinbouvoedingskema aan hulle toegeken. Dit is ’n merkwaardige prestasie vir dié jong klub wat slegs drie jaar gelede as Rotariërs ingelyf is.

Die tuine, waarvoor die plaaslike klub die prys gewen het, voorsien groente aan skole en die gemeenskap as deel van voedingskemas by skole en in die gemeenskap.

Die Rotariërs meen dit wakker nie net entrepreneurskap by die skole en die gemeenskap aan nie, maar maak ook kosverskaffing aan inwoners volhoubaar.

Pietersen, die trotse president, het die prys by die klub se maandelikse vergadering Donderdag 12 Mei by Grosvenor Primêr in ontvangs geneem toe hy dit namens die klub van Pam Rawbone, assistent-goewerneur van distrik 9350, ontvang het.

Volgens Adams, inkomende president van die klub, hoop hulle hierdie groentetuin-projek sal leerders en inwoners verder in landbou en entrepreneurskap opvoed.

“Die idee is ook om hulle te motiveer om later ’n loopbaan te volg en dan hulle kennis in die gemeenskap terug te ploeg,” het Adams verduidelik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article