Latiefa Lehman (31) van Robinvale het manlike bestuurders behoorlik gewys hoe ’n Bell-voertuig bestuur moet word. Foto: Murphy Roberts


“Ek wou nog altyd in ’n omgewing werk wat deur mans oorheers word.”

Dít is die woorde van Latiefa Lehman (31) van Robinvale, wat onlangs stof in die oë van manlike bestuurders gery het toe sy as ’n Bell-operateur by ASLA Construction getoets en goedgekeur is.

Sy sê sy hou sedert haar kinderdae van harde werk en het gereeld saam met haar pa aan motors gewerk, en dit is waar haar passie ontstaan het.

“Ek het verskeie soorte werk gedoen, maar dit was eenvoudig net nie vir my nie. Ek het selfs in ’n skoonheidsalon gewerk, maar baie gou besef dit is nie wat ek wil doen nie,” sê sy oor haar pad tot in konstruksiewerk.

Dié getroude ma van een vertel: “Ek het onlangs – toe ek my kind by die skool aflaai – besluit ek gaan nou by die bouperseel in Kanonkop werk soek omdat ek ’n swaarvoertuig-lisensie het. Ek was glad nie verbaas toe die mense my op ’n Bell-swaarvoertuig wou toets nie. Dit was die eerste keer wat ek dié voertuig in lewende lywe sien en ek het ook nog nooit agter die stuur gesit nie.

“My passie vir dié soort werk het die senuwees kalm gehou en die res is geskiedenis. Dit het vir my gevoel ek hoort agter die stuur van die Bell-masjinerie, en my nuwe kollegas het my onmiddellik aanvaar. Ons werk as ’n span en nie teen mekaar nie,” sê sy.

Joshua Pretorius, die kontrakbestuurder van die ASLA Atlantis-projek, sê in sy byna 25 jaar diens by die maatskappy is Lehman die eerste vroulike operateur.

Lehman het onlangs haar kode 14-lisensie bekom nadat sy vir ses maande ’n in-diens-leerlinglisensie by die Commercial Transport Academy gedoen het. Daarna het sy haar lisensie gekry.

“Ek is opgewonde oor die geleentheid wat ASLA my gebied het en sal gewis meer wil leer en nog groter masjiene bestuur,” vertel sy trots.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article