Die skatryk egpaar van Melkbos wat op 15 aanklagte – waaronder verkragting, mensehandel en poging tot moord – teregstaan, is weer borgtog geweier.

Landdros Phumeza Magcai het Vrydag 21 Februarie tydens haar uitspraak gesê dat die manlike beskuldigde die klaer uit die staanspoor in ‘n slegte lig probeer stel het.

Die staat, onder leiding van adv. Evadne Kortje, het egter voet by stuk gehou dat die staat ‘n sterk saak teen die twee verdagtes het. Kortje het aan die hof voorgehou dat ses van die klagtes skedule 6-misdrywe is en daarom moet borgtog geweier word.

Kortje het ook gesê die verdagtes hou ‘n vlug- risiko in en kan dalk die klaer en staatsgetuie intimideer en selfs bewyse vernietig. Die landdros het in haar uitspraak met die staat saamgestem dat hulle in enige plek kan gaan skuil omdat hulle ook burgerskap in Katar, Doha in die Midde Ooste het.

Die twee verdagtes se regspan het tydens sluitingsargumente oor hoekom hulle borgtog moet kry, weer die hof se aandag op die klaer se integriteit geplaas.

Die verdediging het aan die hof gesê oorweldigende bewyse bestaan dat die klaer nooit teen haar sin aangehou of ontvoer is soos die staat beweer nie. Die verdediging wou ook weet hoe kan die staat beweer die klaer is verkrag terwyl ‘n sekskontrak tussen die partye bestaan het.

Magcai het egter in haar uitspraak gesê die twee is van baie ernstige klagtes aangekla, wat die minimum gevangenisstraf vereis. Sy het ook aangevoer dat die man reeds probeer het om sy finansiële invloed te bruik. Die staat het aangevoer dat hy die stasiekommesaris probeer beïnvloed het dat die saak nie die hof moes haal nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article