Die Atlantis Blue Crane senior klub (ABC) staan nie net bekend vir hul goue jare nie, maar ook as ’n klub wat vir sy lede en gemeenskap omgee.
Die klub is in 1998 gestig en verskaf vermaak op die gebied van sport en kultuur aan alle lede. Die klub is ook by die “Atlantis Coordinating Council for the Aged” geaffilieer en het ’n ledetal van omtrent 30 aktiewe lede.
Volgens die huidige klubvoorsitter, Rozetha Vlotman, en die klubkoördineerder, Martin De Vililiers (Oom Diffie), het hulle die laaste twee jaar merkwaardig gegroei.
Op papier blyk dit die klub word goed bestuur en hulle woeker in die gemeenskap, wat wys hy voorsien aan die behoeftes van die goue oues.
Die klub is oop vir almal in Atlantis, en mense jonger as 60 kan ook by die klub aansluit.
Die lidmaatskapfooi van R100, wat elke maand betaalbaar is, word aangewend om die lede van verversings, vervoer en ander aktiwiteite te voorsien, vertel die voorsitter.
Die ABC-klub word geassosieer met die Bloukraanvoël, die nasionale voël van Suid Afrika, en verskaf kulturele programme sowel as sportaktiwiteite aan sy lede. Die Bloukraanvoël word deur verskeie kulture oor die wêreld heen erken as simbole van genade, wysheid, dapperheid en voorspoed, en daarom is die Bloukraanvoël gekies as embleem op hul uitrustings.
Hierdie buitengewone voël is nie net ’n integrale deel van die ekostelsels van die natuurlike wêreld nie, maar ook kenmerkend in die vorming van oortuigings wat oorgedra is van antieke tye en wat vandag steeds geld.
Lede wat graag by die klub wil aansluit, kan Donderdae vergaderings by die klubhuis in Bloukransstraat 34, Sherwoodpark, bywoon.
Die klub bedank al sy borge vir uitmuntende ondersteuning wat dit moontlik maak vir die goue oues van Atlantis – veral Atlantis Foundries, wat die laaste paar jare ’n huishoudelike naam vir hulle geword het. . Kontak die sekretaris, Delores (Lolla) de Villiers, by 076 955 6467 vir nog inligting.





