Sers. Desmond Macay, kapt. Benice Hendricks, die verdagte, sers. Anthea Waldeck en sers. Luvuyo Goya van Milnerton FCS se vinnige optrede het verhoed dat nog ’n onskuldige vrou ’n slagoffer word.Foto: Verskaf


’n Man van Mitchells Plain wat roomys in die winter verkoop en dan glo sy assistent se drankies dokter, is aangekeer.

Die Roomys-man wat jong vroue werk aanbied as sy assistent in verskillende gebiede, is Vrydag deur FCS Milnerton in Atlantis aangekeer op klagtes van verkragting en dit kan dalk ’n blik wurms oopmaak, het Weskus Nuus se bron verklap. Volgens die 24-jarige slagoffer van Atlantis het die man haar werk aangebied vir die dag en sy het dit aanvaar. “Die verkope was maar traag omdat dit steeds koud is, maar die geldjie was welkom,” vertel sy. Die onwetende slagoffer vertel die man het haar na ’n uur van rondry ’n cider aangebied en gesê “dit is maar stil, so hulle kan bietjie ontspan en dan weer later deur die strate ry”.

“Dit was ’n plan, maar ek onthou die drankie was net half gedrink toe raak alles blank,” vertel sy.

“Ek het later in Pella se bos bygekom, byna heeltemal kaal, en die [man] was besig om hom skoon te maak.

“Toe ek hom vra wat het hy gemaak, het hy ’n R100 in my hand gedruk en net gesê ‘ons is klaar’, waarna hy my gaan aflaai het.”

Volgens familie van die slagoffer het sy weer bewusteloos geraak toe sy by die huis kom en het later alles vertel waarna hulle ’n saak gaan maak het.

Die slagoffer vertel: “Vrydagoggend het ek weer die [man] se van gesien en het onmiddellik die ondersoekbeampte in kennis gestel.”

Volgens Weskus Nuus se bron het die eenheid gou gespeel en met die slagoffer saam, het hulle die man afgetrek. Die bron verklap dat daar ’n 29-jarige vrou van Delft in die voertuig was. Die bron verklap ook dat, nadat die voertuig deursoek is, is daar op verskillende date rape dwelmmiddels, kondome, verskeie kapsules en ’n penisvergrotings-apparaat afgekom.

Volgens die vrou van Delft het hy haar ook werk aangebied en vertel dat hulle vir die dag in Atlantis gaan werk. “Hy het my ook ’n drankie aangebied, maar ek het geweier,” vertel sy.

“Ek het gekom vir werk en nie ’n nice time nie.”

Sy vertel dat hy baie opdringerig was toe sy die drankie en kos wat hy aangebied het, geweier het. Sy meen hy het desperaat geklink en bied haar toe ’n tjokkie aan. “Ek het agterdogtig geraak toe die tjokkie baie bitter was en hy net sê dit is ’n nuwe produk. Dit is net die polisie se vinnige optrede wat verhoed het dat ek ook ’n slagoffer geword het,” vertel sy.

Volgens kapt. Lisa Munro, polisie woordvoerder, verskyn die verdagte vandag in die Atlantis-hof op klagte van verkragting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article