Quewin Botha (15) het in sy eerste senior wedstryd vir Atlantis sy stokke behoorlik die praatwerk laat doen.


Die WP- senior golf-liga het vroeër vandeesmaand afgeslaan en Atlantis druk sy stempel behoorlik af.

Quewin Botha (15), voormalige Weskus Nuus/Let’s Play-wenner, het ook sy buiging in die liga gemaak en sy meer ervare teenstaanders soos beginners laat lyk.

Die kompetisie vir spelers met ’n enkel-voorgee het van die voorste klubs en spelers in sy geledere.

Die kompetisie word op ’n tuis- en weg-basis gespeel waar vier spelers tuis en vier spelers weg speel. Atlantis het in sy eerste wedstryd teen Bellville goed begin en die tuisspelers het met 3/1 geseëvier.

Die weg-spelers kon egter nie dieselfde vermag nie en het die onderspit met 1/3 gedelf, wat die uitslag gelykop gemaak het.

Atlantis het in sy tweede wedstryd volpunte met ’n “walk over” gekry toe sy teenstanders, Westlake, nie opgedaag het nie.

Botha het die senior span Sondag (24 Oktober) in ’n wedstryd teen Somerset-Wes verteenwoordig nadat een van die klub se topspelers dit weens persoonlike redes nie kon maak nie.

Volgens Shawn Conrad, wat Botha by die skoleliga afrig, het Botha net sy gewone spel gespeel en die geleentheid met beide hande aangegryp.

Botha was ná die eerste nege reeds drie voor en het nooit teruggekyk nie, en het sy oorwinning reeds op die 15de putjie verseker.

Atlantis was voor Sondag se wedstryd eerste op die punteleer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article