Die PBT-groep, ’n data-spesialisonderneming en die LFP-groep het vroeg in die jaar koppe bymekaar gesit en die Yes-program van stapel gestuur om geleenthede vir werklose jong mense van Atlantis en omliggende gebiede te skep.
Dié twee maatskappye het 22 jong mense in diens geneem om dienslewering by 11 skole in Atlantis te verbeter. Die doel van die program is om jong mense op te lei sodat hulle die administratiewe take van die onderwysers en klerke kan verlig.
Met die uitbreek van Covid-19 het hierdie jongelinge die kontrolering, skandering, sanitasie van leerders en ander aktiwiteite maklik vir onderwysers en hoofde gemaak.
“Die doel en visie van die program is om ’n verskil in die lewe van jong mense te maak deur middel van werkskepping en opleiding en ons wil graag sien dat hulle suksesvol is in hulle gemeenskappe,” het Jacky Malgas gesê.
Skoolhoofde van die verskillende skole het die jong mense geloof vir die puik diens wat hulle by die skole lewer en sal graag wil sien dat dié program nie moet stop nie, maar aanhou om die volgende groep jong mense op te lei, het die skoolhoofde gesê.
Jacky Malgas, ondernemingsontwikkelingsbestuurder en hoof van die PBT-stigting, glo dat dié program hoop in Atlantis en omliggende gebiede sal bring. Malgas, ’n voormalige leerder aan Reygersdal Primêr en Hoër Tegniese skool Proteus is ’n trotse produk van Atlantis.
“Daar is baie talent en potensiaal in Atlantis, maar sommige jong mense het net ’n bietjie leiding en raad nodig om hul drome te verwesenlik. Ons hoop om die program volgende jaar verder uit te brei met die byvoeging van ’n nuwe groep sodat die eerste groep verdere opleiding op ander gebiede sal ontvang,” het Malgas gesê.





