Twee polisiebeamptes van Atlantis sal moet verduidelik waarom hulle letterlik met hul broeke op die enkels betrap is.

Dié man en vrou, wat albei getroud is, is vroeër die maand op kringtelevisie opgeneem waar hulle besig is om intiem buite die vangwa te verkeer.

Volgens ’n betroubare bron het dié voorval by Grottobaai, op die R27 (Weskus-pad) plaasgevind en het iemand die twee se geheime avontuur op die lappe gebring.

Volgens kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is die voorval onder die bestuur van die Atlantis-polisiekantoor se aandag gebring en word die aantygings intern ondersoek.

Dit gons intussen in die gange van die polisiekantoor oor dié twee se interaksie en skindertonge is van mening dat dié “voorval seker weer onder die mat gevee gaan word aangesien die beamptes ná byna twee weke nog nie aangekla is nie”.

Die twee beamptes wat nagskof gewerk het, het die inperking tot hul eie genot gebruik en het byna 30 km ver vir die plesiertjie gery.

Volgens die betroubare bron is dit niks nuut nie, maar om so ver te ry net om op kamera afgeneem te word, is moeilikheid soek. Die bron vertel ook dat hulle hoop die voorval word gou ondersoek omdat die gemeenskap nou die hele polisiekantoor bespot oor die beamptes se optrede.

Atlantis-polisie was verlede jaar ook in die nuus oor klagtes van beweerde seksuele teistering wat teen ’n senior polisiebeampte by dié kantoor gemaak is. Dié beampte is na ’n ander polisiekantoor verplaas nadat inwoners betoog het. Polisiebeamptes en die gemeenskap is steeds kwaad oor die bewerings omdat daar nie ’n woord gerep word oor die ondersoek oor die klag rakende seksuele teistering nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article